Twee Afrikaanse flieks vir internasionale feeste gekies

Ellen Pakkies en Jill Levenberg. (Foto: Lindsey Appolis)

Die span van die Afrikaanse lokettreffer Vaselinetjie het aangekondig dat dié fliek vir die Sedona Internasionale Rolprentfees in Arizona, VSA, gekies is terwyl die nuwe fliek, Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies, gekies is om by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees in Nederland vertoon te word.

Vaselinetjie is op 22 September verlede jaar in fliekteaters landswyd vrygestel terwyl Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies nog nie deur Suid-Afrikaanse gehore gesien is nie.

Hoewel die fliek as “klein” bestempel word, is die storie van Ellen Pakkies ʼn welbekende een. Die storie, wat net soos Vaselinetjie sʼn op ware mense van Suid-Afrika gegrond is, handel oor een van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende moordsake.

Die fliek vertel die storie van Ellen Pakkies (Jill Levenberg) se spanningsvolle verhouding met haar twintigjarige seun, Abie (Jarrid Geduld), wat aan dwelms verslaaf is. Sy dood het in 2007 opslae reg oor die wêreld gemaak. Die mees ontstellende aspek van die moordsaak was dat sy ma die moordenaar is. Advokaat Adrian Samuels (Clint Brink) neem dan haar saak aan en is vasbeslote om te bewys dat Ellen nie ʼn ander keuse gehad het nie.

Jarrid Geduld vertolk die rol van Ellen se dwelmverslaafde seun, Abie. (Foto: Lindsey Appolis)

“Dit is vir my ʼn groot voorreg om te weet dat hierdie klein fliek dit reggekry het om nie net aan internasionale standaarde te voldoen nie, maar ook erkenning te kry by so ʼn gesogte fees,” het Paulo Areal, uitvoerende vervaardiger, gesê. “Dis regtig vir ons ʼn groot eer en ek wil almal bedank wat dit moontlik gemaak het, veral Ellen Pakkies.”

Daryne Joshua is die regisseur van die fliek en is veral bekend vir sy suksesvolle debuutrolprent Noem My Skollie. “Die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees is een van die mees gesogte internasionale filmfeeste,” het Joshua gesê.

“Ek is baie opgewonde dat ons klein Suid-Afrikaanse projek bo duisende ander inskrywings, van reg oor die wêreld, gekies is om deel te wees daarvan in 2018. Baie geluk en baie dankie aan die vervaardigers en filmspan, ons kan trots wees op hierdie prestasie. Ek hoop ook dat mense nou ook die omstandighede rondom Ellen Pakkies se merkwaardige verhaal beter sal verstaan,” het Joshua bygevoeg.

Ellen: Die Storie van Ellen Pakkies word op 27 Januarie by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees vertoon. Die rolprent word op 7 September 2018 deur Ster-Kinekor Entertainment in Suid-Afrika uitgereik.

Corné van Rooyen, regisseur van die fliek Vaselinetjie, het vroeër aan Maroela Media gesê die storie handel oor ʼn bruin man van die Noord-Kaap wat op ʼn baie warm dag ʼn baba optel. “Hy en sy vrou het nie aanvanklik besef dit is ʼn wit kind nie, omdat die son haar bygekom het teen die tyd dat hulle haar gekry het. Hulle het haar versorg en Vaseline aan die gebrande vel op haar bene gesmeer. Dis hoe sy die naam van Vaselinetjie gekry het.”

Volgens Van Rooyen het hulle self ingeskryf vir die rolprentfees. “Ons wou ons vlerke so wyd as moontlik sprei, daarom het ons besluit om in te skryf vir ʼn hele paar feeste. Ons het nou eers van Sedona gehoor, maar ons wag nog vir ʼn hele paar ander om te laat weet.”

Van Rooyen het gesê om die fliek wyer as Suid-Afrika te kan wys, “is die ongelooflikste ding”.

“Om ʼn storie te kon maak wat nie net plaaslik aanklank vind nie, is ʼn massiewe voorreg,” het Van Rooyen bygevoeg. “Dit is ʼn groot prestasie om oorsee erken te word vir die fliek, want ek het gehoop dat die fliek uniek genoeg sal wees om internasionaal ook aanklank by gehore te vind.”

Van Rooyen het gesê die span sal uiteraard die rolprentfees probeer bywoon. “Die fees het laat weet hulle sal die kostes dek, insluitende verblyfkostes, maar dat ons self die vliegkostes moet dek.”

Vaselinetjie word op 26 Februarie en 2 Maart by die Sedona Internasionale Rolprentfees vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.