Twee vroue ‘STROOP’ renosterkrisis tot op die been

Stroop-Scott-rubriek-05-susan-scott

Stroop-filmregisseur Susan Scott tydens verfilming in die Krugerwildtuin. Foto: Verskaf.

Deur Susan Scott, bekroonde wildlewe-filmmaker 

In my vorige beroep as filmregisseur het ek etlike ure in tientalle redigeerhokkies deurgebring en gekyk hoe dokumentêre filmmakers onder geweldige druk onnodige en selfs ondenkbare veranderinge aan hul werk moes aanbring omdat hulle in ’n kreatiewe magstryd was met diegene wat die rekeninge betaal het.

Hierdie mense kom gewoonlik in twee vorme – die hoof van ’n verspreidingsagentskap wat dit aan verskeie mense verkoop en gevolglik moet die film aan die behoeftes van al hul kliënte voldoen; of ’n uitvoerende amptenaar van ’n beeldsaaier wat ’n dokumentêr gekoop het op grond van ’n voorlegging en dit nou moet omvorm tot die behoeftes van kanale wat voortdurend verander.

So ’n filmmaker kon dalk iets aan ’n beeldsaaier voorgelê het toe hulle na ’n meer tradisionele wildlewe-film gesoek het, maar ná maande en selfs jare in die veld, het die hele mark verander. Die wonderlike wildlewe-film met ’n tradisionele en gestruktureerde storielyn word dus nou gevul deur allerhande spesiale effekte waar die einde nou die begin is en waar grafika ’n veel groter rol speel as die jongste werklikheidsreeks.

Ek onthou sommige van die veranderinge waarop aangedring is. Hier is ’n paar klassieke voorbeelde:

∑         “Die paringsritueel wat julle vir ons gestuur het, moet verander, ons gehoor hou nie daarvan om diere te sien wat paar nie, veral nie die Amerikaanse gehore nie. Fokus van baie naby af sodat die mannetjie se aksie nie gesien kan word nie … Wys net die voorste gedeelte van hulle lywe en sny dit korter.” (Komende van ‘n Amerikaanse beeldsaaier wat in diere spesialiseer.)

∑         “Dit is mooi om so baie diere in die feesmaal te sien … dolfyne, sardyne, walvisse en haaie, maar ons voel bietjie uitgewas met al die blou water, so gaan asseblief uit die water en wys ons iets anders wat sonder blou in.” (Franse verspreidingsmaatskappy oor ’n film oor lewe in die blou oseaan.)

∑         “Ons verstaan dit is ’n ligte oomblik wat nodig is, maar moet asseblief nie verwys na die grootte van die hoofkarakter se manlikheid en sukses met die skoner geslag nie. Dit sal nie goed afgaan by ons mansgehoor in Asië nie. Haal eerder die hele skoot uit.” (Amerikaanse beeldsaaier wat in dokumentêre rolprente spesialiseer.)

∑         “Dit is ‘n wonderlike oomblik wanneer die leeuwyfie uiteindelik die bok vang om haar welpies te voer, maar verwyder asseblief al die rooi bloed om haar mond; dit is baie ontstellend vir ons gehoor.” (Amerikaanse beeldsaaier wat in diere spesialiseer.)

∑         “Dit is eintlik jammer dat die skote aan die einde van ’n lang lens is; ons soek eintlik die aksie van naby.” (Europese beeldsaaier oor ’n film van ’n ongelooflike sku wolftrop wat net oorleef deur kontak met mense te vermy.)

∑         “Dit is moeilik om enigiets in die dik bosse van Kruger te sien. Ek dink ons moet skote insluit van die Delta of Liuwa waar dit makliker is om die diere te sien, kom ons gebruik eerder materiaal uit ons argiewe.” (Britse beeldsaaier wat spesialiseer in wildlewe oor ’n Krugerwildtuin-film.)

∑         “Wow! Mal oor die reeks skote van die ooievaars wat tussen die krokodille staan en vreet, dis regtig ’n skaars gedragspatroon, maar ons moet dit ongelukkig uitsny. Ek benadruk dit weereens, films oor voëls verkoop nie.” (Britse verspreider)

So, noudat ek en Bonné de Bod besig is met die vervaardiging van STROOP, die dokumentêre film oor die renosterstropingskrisis in Suid-Afrika, wil ons die finansiering daarvan so lank moontlik onafhanklik hou. Die storie oor ons renosters is te belangrik om enige skote of aksie te sensor of “sagter” te maak vir enigiemand se gehoor. Die wêreld moet weet wat besig is om met ons renosters te gebeur en deur die publiek vir skenkings te vra, of dat hulle vooraf ’n digitale weergawe of DVD van die film koop, het tot dusver beteken dat ons die afgelope twee jaar oor die hele Suid-Afrika en in Asië kon verfilm en die storie onafhanklik en sonder vooroordeel hou. Ons is nou besig met die redigering … die doel is om ’n eerste weergawe met soveel onafhanklikheid moontlik gereed te kry, wanneer ons dit uiteindelik aan verspreiders gaan wys sodat die kreatiewe magstryd in ons guns is.

  • Help ons om dit reg te kry deur ’n skenking te maak of ’n digitale weergawe te koop by sdbfilms.com of op Facebook.
  • Bykomend tot die skarefinansiering van STROOP, het bekroonde wildlewe-filmmaker Susan Scott en bekroonde wild- en natuurlewe-televisieaanbieder, Bonné de Bod, bekend vir haar sewe jaar op die natuurprogram 50|50, hul eiendomme verkoop en die opbrengs alles in die film ingestoot. Dit is ’n passieprojek vir albei en Stroop word later vanjaar vrygestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Akram ·

Genugtig. die mense kan darm vol draad werk wees. ek wonder nou net hoe die oorsese mense gaan reageer oor die leeu in JHB? die mite is mos daar daar dat leeus in die strate rondloop. wel volgnes die media was dit die geval. ek ondersteun die natuurlewe. dis mooi en besonders en moet bewaar word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.