Uitstel van nuwe Hollywood-fliek stuit loket

Die Warner Bros-ateljee het die uitreiking van die Britse draaiboekskrywer Christopher Nolan se jongste fliek, Tenet, onbepaald uitgestel weens die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Dié fantasie-spioenfliek sou aanvanklik op 17 Julie uitgereik word, maar die datum is aangeskuif na 12 Augustus. Tenet sou na verwagting die eerste groot Hollywood-rolprent wees wat in Amerikaanse fliekteaters sou begin draai nadat alle teaters in Maart gesluit is weens die pandemie.

Volgens Warner Bros word die datum vir die uitreiking van die fliek heroorweeg “te midde van al voortdurende onsekerheid”. Hulle het ook gesê dit word oorweeg om die fliek in ander lande uit te reik voordat dit in die VSA uitgereik word.

“Ons behandel Tenet nie soos ʼn tradisionele wêreldwye vrystelling van dag-en-datum nie, en ons komende bemarking- en verspreidingsplanne sal dit weerspieël,” sê Toby Emmerich, voorsitter van die ateljee se Pictures Group.

Nolan is die skrywer van rolprente soos Batman Begins, The Dark Knight en The Dark Knight Rises en Interstellar.

Owerhede in New York en Los Angeles, twee van die VSA se grootste rolprentmarkte, het nog nie rolprentteaters in dié stede toestemming gegee om te heropen nie weens die stygende getalle in Covid-19-infeksies en ‑sterftes.

Rolprentteaters in China het egter Maandag heropen met streng maatreëls wat ingestel is wat kapasiteit in die teaters beperk.

Walt Disney sal glo voortgaan met die uitreiking van die aksierolprent Mulan op 21 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jeandre ·

Die gaan beslis die beste fliek van die jaar wees, kan nie wag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.