‘Uitvlucht’ – die grootste van als bly die liefde

Uitvlucht

Regardt en Clara van den Bergh. Foto: Maroela Media

Die première van Uitvlucht by Cedar Square in Sandton is gisteraand deur verskeie bekendes soos Bertha le Roux, Sorina Erasmus en Burgerd Botha bygewoon.

Die fliek vertel die verhaal van Anna, ’n konserwatiewe middelklasvrou, wat alles in haar lewe verloor. Op haar reis na selfontdekking en vergifnis kry sy werk by ’n plaasskooltjie met die naam Uitvlucht.

Volgens Regardt van den Bergh, skrywer, vervaardiger en regisseur van die rolprent, is Uitvlucht losweg gegrond op hom en Clara van den Bergh se verliefraak.

“Dit was ook ʼn groot verantwoordelikheid, want ek wou die temas wat bespreek word met integriteit hanteer – onderrig, ouer mense wat verlief raak en seer in mense se lewens, asook die ontsaglike genade wat ons almal ervaar,” sê Regardt.

Clara van den Bergh, wat die hoofrol speel, het werklik by Uitvlucht skoolgehou en die kinders wat in die fliek te sien is, is dieselfde kinders vir wie sy klas gegee het. Dit was juis dié ervaring wat tot die ontstaan van die rolprent gelei het. “Dis ongelooflik – ek is baie dankbaar. Ek het nie eintlik aan my eie lewe gedink nie. Ek het op stel gekom en hard gewerk soos enige ander aktrise.”

Iemand wat ’n mens gewoonlik voor die kameras sien, Lika Berning, het dié keer agter die skerms gewerk as medevervaardiger. Sy sê dit was vir haar ʼn ongelooflike ervaring gewees en dat sy dit graag weer sal doen. “Dit was ʼn passieprojek vir my pa (Regardt van den Bergh) – en om deel daarvan te wees was vir my ongelooflik.”

Verskeie temas tree in hierdie rolprent na vore, maar vir Margot Luyt, wat die rol van Hetta vertolk, handel dit veral oor liefde. “Ek dink wat die film vir ons sê, is: Dit maak nie saak wie jy is, waar jy is, wat jy verdien of hoe mooi jy is nie – gee liefde. Dit help jou om uit te vlug, en dit help ook ander mense om uit te vlug.”

Die sleutelrol van die gemeenskap word ook beklemtoon. Jill Levenberg wat ook in die film speel, sê dit is iets wat broodnodig is. “Ons moet teruggaan na die gemeenskap toe, na daai dae waar almal se kind jou kind was, waar jy jou nie net oor jouself en jou eie familie bekommer het nie.”

Uitvlucht sal op 13 Mei landwyd in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Regard en Clara, baie geluk met hierdie wonderlike boodskap! Mag dit ‘n vars perspektief aan ALMAL in ons land uitdra (as almal dit net kon sien en hoor!), want ons het dit so nodig! Die dag toe ek verneem dat julle twee by mekaar uitgekom het, het ek in julle vreugde gedeel! Ek het nog al die jare die hoogste respek en waardering vir julle elkeen, met baie begrip, deernis en empatie! Julle is albei twee pragtige mense (en ‘n pragtige paartjie!) met wonderlike talente – mag julle pad saam in alles wat julle beleef en aanpak, vir julle en almal om julle, besonder geseënd wees! Groetnis van huis tot huis!

Cobus ·

Baie oulik gedoen, het dit geniet. Net jammer vir die twee insetsels

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.