‘Van der Merwe’ kry ʼn fliek

Van der Merwe (Foto: Verskaf)

Hoeveel Van der Merwes is nodig om ’n troue stop te sit? Dalk net een – maar jy sal self moet uitvind wanneer die splinternuwe Afrikaanse fliek Van der Merwe vanaf 28 Julie landwyd in teaters te sien is.

Maak jou gereed en hou styf vas, want die onderwerp van Suid-Afrika se gunsteling-grappies kry lewe in dié komedie oor die buiteperd.

Ten volle toegerus met sy wanopvattings, vooroordele en kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees, is dié fliek een vir die hele gesin.

Elke land het iemand met wie almal spot. In Ierland is dit Paddy, in Israel is dit Hymie en in Suid-Afrika is daardie persoon Van der Merwe – en dié fliek gaan oor hom.

“Ek wou ’n fliek maak oor ’n enkele karakter, soos ‘Ace Ventura’ of ‘Zoolander’, maar met ’n Suid-Afrikaanse aanslag. ‘Van’ is deel van ons kultuur, ’n karakter met wie almal hulle kan vereenselwig. Hy het ’n geskiedenis en ’n plek in ons harte. Om aan hom lewe te gee, op die grootskerm, is iets wat almal graag wil sien,” sê regisseur en draaiboekskrywer Bruce Lawley oor Van der Merwe – sy eerste vollengtefilm.

Vervaardigers Craig Jones, Bruce Macdonald, Murray Macdonald en Bruce Lawley bring ’n tong-in-die-kies familiekomedie na die grootskerm, met Rob van Vuuren (Van) en Reine Swart (Marike) in die hoofrolle.

Van der Merwe, wat afspeel op ’n plaas in Suid-Afrika, vertel die verhaal van Van se dogter, Marike, wat terugkeer ná ’n oorbruggingsjaar in Engeland. Sy is nie alleen nie: Haar verloofde, George, ’n Britse mediese student, is aan haar sy. Van moet nie net daarmee vrede maak dat sy enigste dogter met ’n Engelsman gaan trou nie, maar word ook deur sy moeilike, tradisionele pa beveel om dié verhouding te beëindig. Dit plaas hom in ’n baie stresvolle situasie en los hom met ’n moeilike besluit: Staan hy op teen sy pa en aanvaar die troue … of gehoorsaam hy sy pa, wie se goedkeuring hy bitter graag wil hê, se bevel? Maar dit kan beteken dat hy sy dogter vir altyd verloor.

Wanneer die aanstaande Britse skoonfamilie opdaag, word daar behoorlik kop gestamp. Dit ontaard in ’n kultuurstryd en lei tot verskeie kantkies-voorvalle en ander skreeusnaakse gebeure, wat lewe gee aan die klassieke Van der Merwe-grappies wat ons almal so goed ken.

Volgens Bruce is die draaiboek vir Van der Merwe reeds in 2005 geskryf. “Ons ken almal die grappies, maar wie is die man agter die mite? Watter soort mens moet iemand wees en hoe moet hy optree om die onderwerp van almal se grappies te wees? Dit is waaroor die storie gaan. Op ’n dieper vlak gaan die rolprent daaroor om verskille te oorkom, eie te bly aan wie jy is en nooit op te gee nie, ongeag wat die omstandighede mag wees.”

Hierdie ligsinninge prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid interessante karakters, wat spesiaal geskep is om Van se tekortkominge te beklemtoon.

Bekende aktrise Chanelle de Jager vertolk die rol van Van se vrou, Suzette, wat vasberade is om die situasie te red. Ian Roberts speel die dominerende Oupa Van, wat beslis die gehoor se aandag sal trek. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen.

Kurt Darren maak ook ’n gasvertoning as ’n sanger by die troue en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van se beste vriend.

Dié rolprent word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landwyd vrygestel word op 28 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico van der Merwe ·

Klink soos ‘n variasie op die tema van “Lord Oom Piet”. Ons Vannermerwes kan humor en fyn spot hanteer. Moet net nie ‘n swak fliek maak nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.