‘Vaselinetjie’ ʼn lokettreffer

Vaselinetjie (Foto: Instagram)

Vaselinetjie – die roerende fliek wat op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugroman gegrond is – het teen Woensdagaand reeds R1 miljoen by die loket verdien, skaars een week nadat dié fliek in teaters landwyd begin draai het.

Vaselinetjie vertel die storie van ʼn wit meisie wat as baba in die veld gelaat is en dan opgetel en versorg word deur ʼn bruin man en sy vrou voordat sy na ʼn kinderhuis gestuur word.

Dié fliek, wat vroeër vanjaar tydens die kykNET Silwerskermfees die toekenning vir die beste fliek ontvang het, is reeds deur meer as 23 000 mense gekyk en die resensente het dit eens: Vaselinetjie is ʼn moet-sien-film.

“Ek is uit die veld geslaan deur die kykersgetalle. By teaters op plekke soos die Paarl en Garden Route was vertonings heelnaweek uitverkoop. Boonop is ek dankbaar vir die pragtige verering onder resensente,” het Corné van Rooyen, die regisseur, gesê.

Vaselinetjie is vervaardig deur Danie Bester en Saskia Schiel. Nicole Bond en Marguerite van Eeden maak hul silwerskerm-debuut onderskeidelik as die jong en ouer Vaselinetjie Bosman. Die rolverdeling behels Arno Greeff, Elzet Nel, Elani Dekker, Marise Loots, Anchen du Plessis, Daniah de Villiers en die veteraanakteurs Royston Stoffels en Shaleen Surtie-Richards.

Lees meer oor Vaselinetjie se amptelike première op Maroela Media. Lees ook dié fliek se resensie deur Leon van Nierop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.