‘Verskietende ster’ vertel van verlies en vergifnis

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Die nuwe Afrikaanse fliek, Verskietende Ster, vertel die storie van ʼn uiters musikale, talentvolle jong seun, wat moet kies tussen vergifnis en die verlede, ná die waarheid oor sy ma se dood onthul word.

Die fliek het in 2015 vir die eerste keer by kykNET se Silwerskermfees gedraai en gaan in April op die silwerdoek te sien wees.

Verskietende Ster vertel die verhaal van Phillip Schuman (Deànré Reiners) wie se wêreld in duie stort toe sy ma sterf. Hoewel hy nog sy pa, Tomas (Hykie Berg), het om op te steun, het hy lankal reeds moed opgegee met die lewe.

Phillip kry ʼn manier om sy droom as pianis te volg met die hulp van die nuwe vakadviseur, Max du Toit (Hannes van Wyk).

Toe Max die eerste keer hoor hoe Phillip een van sy eie komposisies speel, het hy dadelik geweet die seun het die talent om in die voetspore van Beethoven te volg. Max neem Phillip onder sy vlerk en sorg dat hy ekstra klavierlesse kry, maar besef gou alles gaan nie so glad verloop as wat hy gedink het nie. Tomas, wat vasgevang is in skuldgevoelens en steeds oor die dood van sy vrou Maria (Jana Strydom) treur, het Phillip verbied om ooit weer aan ʼn klavier te raak.

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Verskietende Ster herinner aan die krag wat musiek het om mense aan te raak en lig in die duisternis te bring.

Die fliek is vervaardig en geskryf deur die bekroonde rolprentmaker Stefan Enslin en is gegrond op sy roman met dieselfde titel wat in 2013 gepubliseer is. Philo Pieterse is mede-vervaardiger.

Verskietende Ster is die eerste Afrikaanse rolprent wat met ʼn volledige orkes spog. Die bekroonde komponis, Geo Höhn , wat veral bekend is vir sy komposisies vir rolprente en televisiereekse, het die musiek vir die fliek behartig.

Philo het gesê Verskietende Ster stel ondersoek waarom mense talente kry. “Die hart van die fliek is die pynlike verkenning van musiek se emosionele samehangendheid asook musiek se krag om ons aan te raak en om pyn in iets mooi en genesend te omskep. Dit is ʼn besielende storie wat beslis die fliekgangers se hartsnare sal roer,” het hy gesê.

Die regie is behartig deur Darrel James Roodt. Hy het in 1992 die hoogaangeskrewe prent, Sarafina, geregisseer en sy 2004-film, Yesterday, is vir ʼn Oscar vir beste buitelandse fliek benoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.