Veteraan-akteurs met Oscar-eretoekennings vereer

Liv Ullmann in 2017 op die Cannes-rolprentfees in Cannes, Frankryk. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences het Donderdag aangekondig dat die akteurs Samuel L Jackson en Danny Glover, die Noorweegse aktrise Liv Ullmann en aktrise-regisseur Elaine May eretoekennings van die akademie sal ontvang voor die volgende galageleentheid volgende jaar plaasvind.

Die akademie het in ʼn verklaring gesê Jackson, May en Ullmann sal op 15 Januarie erebeeldjies ontvang terwyl Glover die Jean Hersholt Humanitarian-toekenning tydens die Governors-toekenningsgeleentheid sal ontvang.

“Ons is verheug om vier persone te vereer wat ʼn diepgaande impak op die rolprentbedryf én die samelewing gehad het,” het David Rubin, president van die akademie, gesê.

Samuel L. Jackson in 2019 op die première van Netflix se ‘Dolemite is my name’ in Westwood, Kalifornië. (Foto: Lisa O’Connor/AFP)

Glover (74) het in 1985 vir die eerste keer wyd erkenning ontvang vir sy rol in Steven Spielberg se The Color Purple voordat hy teenoor Mel Gibson verskyn het in die gewilde Lethal Weapon-flieks.

“Danny Glover se voorspraak vir geregtigheid en menseregte oor dekades heen het ander geïnspireer om sy leiding te volg,” het Rubin gesê.

Jackson (72) het in dosyne rolprente gespeel en het ʼn Oscar-benoeming ontvang vir sy rol in Quentin Tarantino se 1994-trefferfliek, Pulp Fiction.

Hy was ook in verskeie Marvel-flieks te sien as die oogklapdraende Shield-baas Nick Fury, en het in Star Wars verskyn as die Jedi-meester Mace Windu. Hy was ook te sien in die fliek Snakes on a Plane.

Danny Glover vroeër vanjaar op die “Save the Performing Arts Act of 2021”-mediakonferensie in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Ullmann (82) is aan gehore wêreldwyd bekend gestel in Ingmar Bergman se Persona, en sou later vele rolprente saam met dié Sweedse regisseur maak. Sy het in die 1970’s twee Oscar-benoemings as beste aktrise ontvang.

Rubin het gesê sy het “gehore bekoor met haar dapperheid en emosionele deursigtigheid”.

May (89) het groot sukses behaal deur haar komiese samewerkingsooreenkoms met Mike Nichols voordat sy Oscar-benoemings ontvang het vir draaiboeke uit haar pen vir Heaven Can Wait en Primary Colors.

Sy was ook regisseur van verskeie rolprente, insluitend A New Leaf, The Heartbreak Kid en Ishtar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Louis

Who cares !!! Media maak afgode van movie ‘sterre’ wat niks vir die samelewing beteken nie. Hulle is so behep met hulle self. Mens sal sweer hulle het kanker genees.