Video: Agter die skerms van ‘Nommer 37’

Nommer 37 PlakkaatGambit Films se splinternuwe Afrikaanse rolprent, Nommer 37, is ʼn misdaadriller wat afspeel in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions in fliekregisseur Nosipho Dumisa se weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlakte.

Die fliek bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eksmisdadiger wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was, opgekou en uitgespoeg is.

Irshaad Ally (Suidooster en Four Corners) speel die rol van Randal Hendricks wat onlangs deur ʼn  ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- en woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ʼn  sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis.

Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ʼn verkyker present gee, kan hy sy bure dophou. Hy sien op ʼn dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ʼn moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld.

Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ʼn lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld om hom al verder in chaos gedompel word.

“Wanneer ʼn fliek se naam Nommer 37 is en op die Kaapse Vlakte afspeel, is dit maklik om aan te neem dat dit oor bendes handel, maar dit is allermins die geval,” sê Dumisa.

'n Skermgreep uit die video.

‘n Skermgreep uit die video.

“Dit is deur en deur ’n misdaadriller wat elke oomblik meer spanningsvol raak. Dit gaan oor alles wat vir ’n paartjie kan skeefloop wanneer depressie, nuuskierigheid, gierigheid, vrees en slegte keuses saamgegooi word.”

Die talent van verskeie plaaslike akteurs, onder wie Sandi Schultz (Binnelanders, Noem my Skollie), Deon Lotz (Hansie, Faan se Trein), Elton Landrew (Dis ek, Anna, Dryfsand, 7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken Vows, Suidooster), David Manuel (The Outsiders, Noem my Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This Life, Forgiveness) word tentoongestel, terwyl Monique Rockman ook beïndruk in haar eerste hoofrol op die grootskerm.

Die rolprent begin op 1 Junie in fliekteaters draai.

Kyk hier na ʼn agter-die-skerms-video deur Gambit Films.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.