[Video] Akteurs hang ‘vuil wasgoed’ uit

Leandie du Randt (Foto: Facebook)

Die amptelike lokprent vir die nuwe Afrikaanse fliek, Vuil wasgoed, is Dinsdag bekend gestel.

Dié fliek wat in 2014 op die Silwerskermfees in Kaapstad die toekenning vir die beste kortprent verower het, het vanjaar wéér vyf toekennings op dié fees gewen nadat die kortprent tot ʼn vollengte rolprent verwerk is.

Dié toekennings sluit in ʼn prys vir die beste regisseur (Morné du Toit), beste redigering (Quinn Lubbe), beste akteur (Bennie Fourie), beste produksie-ontwerp (Merishen Wessels) en beste klankontwerp (Janno Muller) en oorspronklike musiek (Benjamin Willem).

Vuil wasgoed is die storie van twee beste vriende, Wim en Kevin, wat saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hul eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die wassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en partytjies by te woon.

Voorlopig is hulle daarmee tevrede. Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, totdat hy ʼn onderduimse juweelhandelaar verraai en sy vinger afgesny word, en dié vinger in ’n baadjiesak by die wassery beland.

Wim en Kevin word teensinnig in ’n gevaarlike onderwêreld ingesleep. Twee skelm broers, ʼn blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ’n ongenaakbare verraaier is almal op Wim en Kevin se spoor. En êrens staan ’n skeepsvraghouer met ’n kosbare vrag en wag vir die hele spul om op toe te sak.

Vuil wasgoed se draaiboek is geskryf deur Bennie Fourie. Die regisseur is Morné du Toit en die prent is vervaardig deur Danie Bester, Bennie Fourie en Bouwer Bosch.

Die rolverdeling sluit in Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann en Leandie du Randt Bosch.

Die prent is onlangs aanvaar vir die Portland- internasionale rolprentfees.

Vuil wasgoed is van 8 Desember landwyd in teaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lio ·

As dit nie vir Nortman was nie, sal ek nie eens kyk nie, nie met ou jammer Bosch’s nie.

Kobus ·

Die kortfilm Vuil Wasgoed was baie snaaks. Soek dit op Youtube.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.