Video: Amptelike lokprent van Eintlik nogal baie vrygestel

André Lötter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

André Lötter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz (Foto: Verskaf)

Die amptelike lokprent vir die nuwe Afrikaanse fliek, Eintlik nogal baie, wat beloof om kykers met die wenresep van romantiese komedie vasgenael te hou, is onlangs bekendgestel.

Dié fliek vertel die storie van Jay van Niekerk (André Lötter), ʼn aantreklike, maar teruggetrokke strokiesboek-animeerder, wat sy lewe deeglik onder beheer het.

Alles verander egter wanneer hy vir Ally ontmoet. Sy is pragtig, vry van gees en op ʼn reis van selfontdekking. Te danke aan omstandighede buite hul beheer word hulle, teen Jay se sin, op ʼn avontuur gedwing. Ongeag hul botsende geaardhede, raak hulle al hoe meer aangetrokke tot mekaar en word dit heeltemal onvermydelik om verlief te raak.

Die pad vorentoe is nie sonder hindernisse nie en Ally se oorbeskermende pa, asook haar ekskêrel, plaas verskeie struikelblokke in Jay se pad om homself as waardig te bewys.

1925Band, wat die temalied vir die fliek sing (Foto: Verskaf)

1925Band, wat die temalied vir die fliek sing (Foto: Verskaf)

Dié fliek is gebaseer op die draaiboek, Ally. Eintlik nogal baie is geskryf en vervaardig deur Jarrod de Jong en Pieter Oosthuizen. Jacques Brand het die regie behartig.

Die temalied van die fliek, “Eintlik Nogal Baie”, is vroeg in Augustus 2016 vrygestel en kan reeds op talle radiostasies landswyd gehoor word. Die 1925Band, wat spesiaal deur die vervaardigers genader is om deel te wees van die projek, sing die liedjie.

“Die liedjie, met dieselfde titel as die film, is ʼn liefdesverhaal en storie op sy eie en ʼn mooi ballade wat mense inspireer om toegewyd te wees. Dis catchy en het dieselfde effek as wat Roxette se “It must’ve been love” in Pretty Woman gehad het,” het De Jong gesê.

Eintlik nogal baie begin op 4 November in teaters draai.

Besoek die fliek se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.