Video: Armand Aucamp gesels oor Van Riebeeck in ‘Krotoa’

Akteurs soos Deon Lotz, Armand Aucamp, Crystal Donna Roberts, Jacques Bessenger en Brendon Daniels is te sien in Krotoa (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse akteur Armand Aucamp sê die splinternuwe veeltalige fliek Krotoa – waarin hy die rol van Jan van Riebeeck vertolk – gaan kykers stof tot nadenke gee.

Krotoa, ʼn geskiedkundige drama, vertel die storie van ’n vurige 11-jarige Khoi-prinses wat van haar mense weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.

Sy word na die eerste fort, wat in 1652 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie opgerig is, geneem waar sy onder meer leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan. Sy word ’n invloedryke tolk tussen Van Riebeeck en haar mense. Vasgevang tussen dié twee kulture probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen.

Krotoa (Foto: Facebook)

Aucamp vertel het hy baie navorsing vir dié rol gedoen om te verseker dat hy die feite van die verhaal eerbiedig. Hy sê hoewel hy getrou moes bly aan die feite, kon hy baie speel met die vermensliking van ʼn karakter waarvan baie mense eintlik nie regtig veel weet nie.

“Ek is geweldig aangetrokke tot stories oor geskiedenis. Wat die verhaal van Jan van Riebeeck moeilik maak, is die politieke bagasie wat met hom saamkom. Ek moes sy karakter skei van die politieke geur waarmee ʼn mens hom assosieer en hom leer ken as ʼn man met foute en alles wat saamhang met menswees,” sê hy.

Volgens Aucamp was die grootste uitdaging moontlik om van dié persepsies weg te beweeg.

Armand Aucamp (Foto: Facebook)

“Dit was ʼn groot uitdaging om weg te beweeg van wat ék dink mense van hom dink. Daar gaan mense wees wat mal gaan wees oor die fliek, en mense wat glad nie daarvan gaan hou nie. Die punt is dat ek, buiten die feite wat ons oor hom het, vir hom menslike eienskappe gegee het.

“Ek noem dit spesifiek, omdat ek dink mense dink nie eintlik oor Van Riebeeck as mens nie. As jy dink aan iemand as ʼn mens, maak jy plek vir foute én glorie. En dit maak dit vir my as akteur lekker, want ek kon hom saam met die feite skets vir die fliek,” sê hy.

Tydens sy navorsingsproses het ook baie oor die lewe van Van Riebeeck geleer, sê hy. “Dit was vir my interessant om op te merk dat hy langer uit Holland weg was as wat hy in die land was, omdat hy ʼn wêreldreisiger was. Hy was maar 19 toe hy die land verlaat het om te gaan seil. Ek dink hy was ʼn ongelooflike strateeg: Hy het fyn vernuf gehad om met adellikes te kon handel dryf. Daar is soveel meer, dit was ʼn wonderlike reis.”

Crystal-Donna Roberts (Foto: Facebook)

Krotoa is nog nie amptelik in Suid-Afrika uitgereik nie, maar het reeds agt toekennings verower op die internasionale rolprentfees vir omgewing, gesondheid en kultuur; die Wêreld-rolprentpryse; die Artemis-vroue-in-aksie-rolprentfees en die Nashville-rolprentfees.

“Dit is ʼn universele storie – dit vertel die verhaal van iemand wat in twee wêrelde vasgevang is en probeer uitpluis wat die regte ding is om te doen,” vertel Armand oor die buitelandse erkenning van die fliek. “Meeste lande in die wêrelde kan met dié storie assosieer. Krotoa het hierdie geweldige worsteling oor wat die regte ding is om te doen, en ons was almal daar, of is steeds daar.”

Maroela Media was by die Johannesburgse voorvertoning van die fliek. Aucamp en Kaye Ann Williams, die skrywer van die fliek, vertel in dié video meer oor Krotoa. Die fliek word op 4 Augustus in Suid-Afrika uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henk du Preez ·

Ek is sommer skoon hartseer oor die stukkie “ek moes die karakter skei van die politieke geur waarmee n mens hom assosieer”. Aan Jan van Riebeeck is daar geen politieke geur nie. Die politiek wat deesdae aan hom verbind word is deur spesifieke persone met n spesifieke agenda geskep. Baie daarvan valslik. Ek hoop sy navorsing het hom dit ook wys gemaak of was dit ook eensydig. Dit wys net tot watter uiterstes sal persone, en in die geval die akteur, gaan om tog so polities korrek te wees.

Chrisjan ·

Ag nee wat. Na wat ek verneem is die film weer vol leuens en halwe waarhede en word die ware geskiedenis weer gruwelik verdraai. Wat verwag jy dan anders?

LInette ·

@Chrisjan – gaan kyk self die fliek en dan vorm jy jou opinie. Weet jy eens wie Eva Krotoa, Vrou van die Kaap was? Gaan lees Dan Sleigh se boek Eilande/Islands of Dalene Matthee se boek, Eva, vrou van die Kaap, dan sal jy weet. Sy was ‘n fassinerende karakter, ‘n ware karakter en die een fliek wat ek vanjaar beslis nie gaan mis nie. Dit is egter slegs vir geskiedkundige “sponse” soos ek.

LInette ·

‘Skuus – dit is Eva van die Kaap – Dalene Matthee se titel.

Linette ·

@Chrisjan – jy het dit daar verkeerd. Onthou, die ‘geskiedenis’ van die Kaap is nie soos ons dit geleer het in Geskiedenis as skoolvak nie. Daar is baie dinge wat gebeur het, wat nóóit in ons geskiedenisboeke vir skool opgeneem is toe ons leerders was nie. My geskiedenisboek het bv. opgehou net na die Groot Trek; nooit het ons geleer van die Boere-oorloë, die ‘Groot Oorlog van ’14’ of die Tweede Wêreldoorlog of selfs die Koue Oorlog, Apartheid, die Grensoorlog e.d.m. nie. Ons het ook nie van die vroeë geskiedenis van SA geleer nie; van die migrasie van swart stamme van Noord na Suid, van die Difaqane/Mfeqane of hoe die Strandlopers (Eva se mense) werklik met die Europieërs kennis gemaak het nie, van Doman en die Boesmanoorloë ens. nie. So, moenie die fliek oordeel op grond van wat jy van die geskiedenis weet nie – gaan kyk dit en waardeer dit vir die rolverdeling, die kinematogie, die herskepping van die “Kaap” soos in daardie dae – en die vertelling van ‘n verhaal wat werklik afgespeel het. Ek beoog om die fliek te gaan kyk en wéér te gaan kyk. Lees gerus ook Dan Sleigh se boek Eilande en Dalene Matthee se boek, Pieternella van die Kaap (Pieternella was Eva se een dogter en uit haar oë leer ‘n mens baie van Eva se gemoedstryd).

eva ·

Dis noual so baie geadverteer op TV, ek hoef nie meer die fliek te gaan kyk nie.

Johannes ·

Die rolprent bedryf in Suid Afrika kan beslis werk van internasionale gehalte lewer. Baie geluk aan almal wat saamgewerk het aan wat ‘n puik produk blyk te wees. Veral trots op die Afrikaanse akteurs wat internasionale blootstelling gaan kry. Sien uit daarna om te sien hoe die geskiedenis van onse Jan uitgebeeld word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.