Video: Bekendes vertel oor ‘Dominee Tienie’ by première

Frank Opperman (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

Die span van die nuwe film Dominee Tienie, onder leiding van Sallas de Jager, het Vrydagaand vir die première van dié film by die NG kerk Overkruin in Pretoria bymekaargekom.

Dominee Tienie is gegrond op Dana Snyman se toneelstuk met dieselfde naam wat Frank Opperman al meer as 250 keer as ʼn eenmanvertoning landwyd opgevoer het.

Die rolprent vertel die storie van ʼn predikant wat sy selfvertroue moet herwin as hy weer die ligstraal wil wees wat hy eens op ʼn tyd vir almal om hom was. Ná 16 jaar in diens van die moedergemeente word dominee Tienie gekonfronteer met ʼn skerp daling in die aantal gemeentelede en hy moet ʼn hedendaagse samelewing wat baie vinnig verander, trotseer. Is hy dapper genoeg om sy gemeente in dié nuwe era te lei?

Bekendes soos Opperman, Henrietta Gryffenberg, Laré Birk en Izel Bezuidenhout is in dié rolprent te sien. Sallas de Jager is die regisseur, vervaardiger en skrywer. Dawie de Jager was verantwoordelik vir die oorspronklike musiek in die film.

Frank Opperman, Thapelo Mokoena, Henriëtta Gryffenberg en Sallas de Jager (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

Dawie het Vrydagaand gesê Dominee Tienie is relevant vir Suid-Afrika omdat baie Suid-Afrikaners in dieselfde situasie grootgeword het.

“Iemand wat grootgeword het in Suid-Afrika en ook ʼn NG gemeentelid was (of steeds is), sal baie naby aan die storie voel. Jy sal alles baie goed herken wat in die fliek gebeur, want dit was in werklikheid ook so. Maar mens weet nooit hoe dit agter die skerms lyk vir die dominee nie, en dié film wys dat elke dominee ook maar eintlik net ʼn gewone oom is,” het hy gesê.

Dominee Tienie begin op 25 Januarie landwyd in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.