Video: Bekendes vertel: Vir dié geleentheid dra ek bloedrooi skoene

Die rolverdeling van Hoener met die rooi skoene (Foto: Verskaf)

Die rolverdeling van Hoener met die rooi skoene (Foto: Verskaf)

ʼn Paar bloedrooi skoene kan nie vir elke geleentheid regverdig word nie. Daar is egter soms okkasies waarvoor dié paar uit die kas gehaal moet word. Verskeie bekendes het Donderdag op die glanstapyt by Cedar Square in Randburg by die fliekpremiѐre van Hoener met die rooi skoene vertel vir watter geleentheid húlle ʼn paar rooi skoene sal dra.

Dié amptelike premiѐre van die Koos Roets-rolprent was ʼn sterbelaaide geleentheid met bekendes soos Simoné Nortmann, Laré Birk, Lizz Meiring en Deon Lotz wat op die rooi glanstapyt te sien was.

Die fliek is ʼn riller-komedie en gaan “kykers laat regop sit, ril en skater van die lag”, sê Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl vertolk.

“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag,” verduidelik Meiring. “Die karakters is uniek en Hoener met die rooi skoene is oorspronklik en magies. Net so fassinerend en eksentriek soos Klaarstroom, die onontdekte juweeldorpie waar ons dit verfilm het, weggesteek in die hart van die Klein-Karoo.”

Dié fliek vertel die storie van Bonnie, ʼn ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig klets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz).

Sy tref hom aan met ʼn dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en bel dan die polisie. By nadere aanskoue van die bloeiende baas word sy flou. As sy met die flitslig van konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld …

Roets is bekend vir flieks soos ʼn Paw Paw vir my Darling, Faan se trein en Die Wonderwerker.

Gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehobye is ook in die fliek te sien.

Maroela Media het Donderdag verskeie bekendes op die rooi glanstapyt gevra vir watter geleentheid hulle ʼn paar rooi skoene uit die kas sal haal en wat hulle gunsteling- onontdekte dorpie in Suid-Afrika is.

Hoener met die rooi skoene word op 27 Januarie landwyd in teaters uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oudste ·

Ek maak geleenthede om my rooi velskoene te dra, my DKW skoene. (dans, kerk en werk.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.