[Video] Dit wemel van bekendes by ‘Vir Altyd’-première

Ivan Botha en Donnalee Roberts wens mekaar gelyk op die sandtapyt met nog 'n uitstekende Afrikaanse fliek. Foto: Esté Meyer Jansen.

Ivan Botha en Donnalee Roberts wens mekaar gelyk op die sandtapyt met nog ‘n uitstekende Afrikaanse fliek. Foto: Esté Meyer Jansen.

Die Johannesburgse première vir die avontuurfliek, Vir Altyd, was Donderdag ʼn tropiese affêre waar talle bekendes hul skoene laat waai het om met hul tone in die sand te staan.

Dié fliek, wat vervaardig en geskryf is deur die akteurs Donnalee Roberts en Ivan Botha, bied ʼn nuwe, vars blik op al die verskillende fases waardeur verhoudings beweeg. “Vir Altyd is ʼn avontuur en dit vat die kykers op ʼn avontuur van al die seisoene van liefde en verhoudings. Die fliek het hárt en mense kan daarby aanklank vind,” het Donnalee en Ivan by die première vertel.

Ivan meen dié karakters is heeltemal verskillend van hul vorige fliek s’n waar die akteurs ook die twee hoofrolle vertolk het. “Ons is baie bewus van die feit dat ons weer saam in ʼn fliek is. Dit was dus vir ons as skrywers en vervaardigers baie belangrik om dit vars te hou. Ons het regtig moeite gedoen om seker te maak ons skryf nuwe karakters wat die teenoorgestelde is van dié in vorige reekse of flieks waarin ons saam te sien was.”

Nie net die karakters het allerlei avonture ervaar nie, maar ook húlle tydens die verfilming. “Ons het die laaste dag van verfilming lugskote vanuit ʼn helikopter geskiet. Ons het albei soos meisies gegil. Ek het gegil uit pure genot, Ivan omdat hy so ’n bietjie bang was,” het hulle geskerts.

Die akteurs meen hulle vorm ʼn wenkombinasie weens die persoonlikheidseienskappe wat hulle deel. “Ons is ewe hardwerkend en perfeksionisties. Ons wil albei op die ou einde die bes moontlike fliek maak sodat ons werklik trots kan wees daarop om aan die mense ʼn wenfliek te wys,” het Donnalee gesê.

Cedar Square in Johannesburg het omtrent gewemel van ander bekendes. Die voormalige Boer soek ʼn Vrou-aanbieder en aktrise, Angelique Gerber, sê romantiese komedies is ʼn móét-sien. “Daar is vir my geen beter storie nie. Ek dink ons gaan nog vir die volgende 500 jaar na romantiese komedies kyk. Dit is iets wat tot die hart praat en jou laat lag.”

Die gewilde aktrise en motiveringspreker, Leandie du Randt, sê Vir Altyd is beslis ʼn fliek waarin kykers hulself gaan verloor en meegevoer raak. “Die moeilikste ding om self flieks te maak is dat jy heeltyd wonder waar die kamera is, asook hoe baie die regisseur vir die akteurs gesê het wat om te doen en wat hul eie inisiatief was. Maar jy weet ʼn fliek is goed wanneer jy jouself daarin verloor. Dit is presies wat Vir Altyd doen.”

Die pasverloofdes, Nadia Beukes en David de Villiers, sê avonture is iets wat gedeel moet word met iemand. “ʼn Avontuur is iets wat jy nie verwag nie. Dis iets nuuts, en vir my persoonlik, wat jy kan deel met iemand spesiaal. Dit gaan oor met wie jy dit deel,” het sy vertel. Hulle is pas terug van ʼn vakansie in Switserland waar David vir Nadia die jawoord gevra het.

Vir Altyd word van 12 Februarie landwyd in teaters vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genoeg ·

Is julle tweetjies nie nou besig om die publiek baie moeg te maak vir dieselfde ou gesiggies nie? “Over exposure” sou ek dink.

Stan ·

Ek en my gesin het die vliek verlede Vrydag in Potchefstroom gesien. Dit was briljant. Ondersteun jou mense.

Tania ·

Het die fliek saterdag gekyk. Die is heeltemal verskillende rolle as Pad na jou hart, baie goeie akteurs, BAIE goeie fliek. Dankie julle. Julle mag maar nog n film maak ;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.