Video: Bustin’ Chops-rolprent: pyn, pret en waaghalse

Suid-Afrika se eerste waaghalsfliek Bustin’ Chops begin vandag in teaters draai.

Kyk gerus die video van die première van Bustin’ Chops onderaan die berig.

As jy televisieprogramme soos AF en Mullets herken, dan weet jy dat Eugene Koekemoer en sy span van waaghalse vir niks terugdeins nie. Nou kan jy die pyn, bloed en adrenalien op die grootskerm beleef.

Bustin’ Chops is ʼn eerste in sy soort in Suid-Afrika en volg Eugene en sy span in hulle poging om die eerste plaaslike waaghalsfliek te maak.  Hulle skiet mekaar met ʼn aartappelgeweer genaamd Tjoppie, eet vrot krokodileiers en doen hulself voor as voorstaanders van die e-tolprojek… te midde van ʼn optog daarteen. Maroela Media het destyds oor Paul se avontuur by die e-tolbetoging berig.

Eugene Koekemoer (wat ook in die fliek te sien is) en Danie Barnard het die fliek vervaardig, geskryf en die regie daarvan behartig. Aanhangers kan ook Jaco Jordaan, Paul de Beer, Louis Koekemoer, Wikus Nienaber en Don Cobra se manewales aanskou.  Jonathan Pienaar maak sy verskyning as die fliekmagnaat aan wie Eugene die konsep van Bustin’ Chops probeer verkoop.

Wees gewaarsku: Hierdie rolprent is soms eksplisiet en kan vir sensitiewe kykers tot slapelose nagte en slegte spysvertering lei. As jy egter ʼn goeie sin vir humor het en paintainment geniet is hierdie rolprent vir jou bedoel.

Bustin’ Chops begin vandag in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.