Video: Deon Lotz: ’Moenie belangrikheid van Silwerskermfees onderskat nie’

Deon Lotz. Foto: Maroela Media

Deon Lotz. Foto: Maroela Media


Die Silwerskermfees is in sy sesde bestaansjaar en die akteur Deon Lotz het nog nie een jaar misgeloop nie. Maroela Media het in Kampsbaai met Deon gesels oor die belangrikheid van die Silwerskermfees.

“Ek is gelukkig om nog elke jaar ‘n kortfilm of langfilm hier te hê,” het Deon gesê. Hy is vanjaar in vier films te sien en dié akteur meen dit gaan daaroor om geleenthede vir jouself te skep.
“Die Silwerskermfees is ook ’n geleentheid vir nuwe regisseurs, kameramanne, mense wat op die stel werk en jonger akteurs om te wys dat ’n film binne ’n kort tydperk gemaak kan word.”

Vir Deon is die fees ’n wonderlike platform, wat nie net films ontwikkel nie, maar ook nuwe talent. Dit is veral die ontwikkeling van en blootstelling aan nuwe genres wat vir hom belangrik is. “Die filmbedryf in Suid-Afrika het ’n punt bereik waar ons meer moet doen as net romantiese komedies. Ek as akteur, wil ’n uitdaging hê om ’n rol te vertolk wat die gehoor prikkel en hulle iets te gee om aan te dink.”

Deon sê hy is wel bekommerd oor die toekoms van Afrikaanse rolprente as dié taal uit skole en universiteite geneem sou word.

“As Afrikaans weggeneem word by skole en universiteite, gaan ons oor twintig jaar nog mense hê wat Afrikaanse films kyk?” Deon sê inisiatiewe soos die Silwerskermfees hou die taal lewendig, omdat rolprente in Afrikaans geskep word, mense die geleentheid kry om in Afrikaans te skryf en gehore terselfdetyd geskep word.

Maar Deon sê dié ontwikkeling is nie net vir Afrikaanse rolprente nie en rolprente in Suid-Afrika, ongeag die taal, moet op so ’n standaard gemaak word, dat dit internasionaal kan meeding.
Kyk die video om te hoor watter raad Deon vir jong mense het wat graag die rolprentbedryf wil betree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daniel ·

Die films op die fees is pateties, daar is wel tegniese vaardigheid maar geen oorspronklikheid. Dit is soos `n Youtube kanaal. Hierdie films vervreem die jonger generasie wat die toekoms van Afrikaans is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.