[Video] Eerste kykie na ‘Noem my Skollie’

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Die amptelike lokprent van die Afrikaanse fliek, Noem my Skollie, is Maandag bekendgestel.

Die lewensverhaal van die draaiboekskrywer, John W. Fredericks (70), is die onderwerp van dié nuwe fliek wat vertel hoe die suksesvolle skrywer en regisseur agter ʼn vullishoop grootgeword het. Met geen heenkome nie en as bendelid het hy daarin geslaag om sy lewe om te draai met die krag van geloof.

Noem my Skollie speel af op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-gevangenis.

Die fliek vertel die verhaal van vier tieners, AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk) wat in die armoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword. Die vier probeer die bendes vermy wat eintlik deel is van hul daaglikse lewens, maar wanneer AB ʼn traumatiese ondervinding het, besluit hulle om ʼn bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende, wat vir mekaar soos broers is, pleeg nie ernstige misdade nie, maar nietemin hou die polisie hulle deurentyd dop. Uiteindelik word die ouer AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem tydens ʼn inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

AB besluit in die tronk om sy talent vir storievertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak en sy status te verhoog, terwyl sy vriend Gimba ʼn ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.

Wanneer AB vrygelaat word, gaan hy voort met die verhouding met sy vriendin, Jenny (Tarryn Wyngaard) en probeer fokus op storieskryf om haar te beïndruk, maar sy bendevriende oortuig hom om ʼn laaste keer weer by hulle aan te sluit, ʼn besluit wat nadelige gevolge vir almal het.

Fredericks het sy skoolloopbaan in sy tienerjare vaarwel toegeroep en het baie jare in die tronk deurgebring. Hy het egter in sy sestigs daarin geslaag om ʼn uitstekende draaiboek van wêreldgehalte te skryf.

Ander akteurs in die rolverdeling sluit Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally in, asook die nuweling, David Manuel, wat die rol van die tronkbaas vertolk.

Daryne Joshua is die regisseur en die klankbaan is geskep deur die gerekende Kaapse musikant, Kyle Shepherd. Shepherd was in 2014 die Standard Bank Jong Kunstenaar vir Jazz.

Die fliek begin op 2 September in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skolllie ·

Ek sal dit seker gaan kyk. Lyk so-so. Gelukkig is daar onderskrifte anders het ek minder as die helfte van die spraak verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.