Video: Eerste kykie na ‘Vir die voëls’

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith (Foto: Verskaf)

Neels van Jaarsveld, Nicola Hanekom en Leandry Smith (Foto: Verskaf)

Die lusmakerlokprent vir die Afrikaanse fliek, Vir die Voëls, is Donderdag amptelik bekendgestel.

Dié fliek word vervaardig in samewerking met kykNET Films as deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar.

Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, vertel dié fliek vertel ʼn unieke storie. “Toe ons twee jaar gelede begin dink het aan maniere om Huisgenoot se 100ste verjaardag te vier, het ons besluit dit sal lekker wees om ʼn romantiese fliek te maak. Daarna is voorgestel ons hou ʼn wedstryd waarin ons lesers vra om hul eie, ware liefdesverhale in te stuur. Die wenverhaal sou as inspirasie vir die draaiboek dien. Irma de Klerk van Newcastle se vertelling van haar en haar man, Sampie, se hobbelrige liefdespad tot by die kansel het gewen,” het sy vertel.

Vir die Voëls vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ʼn korrelkop-rabbedoe wat in ʼn trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore sou sy haar haar kop op ʼn blok sit dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag.

Vir die Voëls speel in die laat 1970’s af en volgens Henriëtte gaan dit “die nostalgiese hartsnare roer”. “Dis ʼn fliek oor ʼn sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ʼn man met so ʼn sterk identiteit dat hy ʼn vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dis ʼn storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat eksterne omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk. Dit alles is temas waarby baie mense aanklank sal vind.”

Quentin Krog is die regisseur van die rolprent.

Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig.

Akteurs soos Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie is in die fliek te sien.

Die rolprent word op 25 November landwyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.