Video: Ellen Pakkies – ‘Ons wou dit so eg moontlik hou’

Ellen, Die Ellen Pakkies Storie is ʼn fliek wat gaan oor Ellen Pakkies wat in 2007 aangekla is van die moord op haar dwelmverslaafde seun, Abie.

Ellen se opspraakwekkende verhaal het die aandag van mense oor die hele wêreld getrek.

Dié fliek, wat op 7 September uitgereik word, is so na aan Ellen se regte storie dat die fliekspan selfs in haar eie huis opgeneem het.

Daryne Joshua, regisseur van dié film, het gesê die egtheid van die fliek kan die kyker amper laat voel of hulle regtig daar was.

“Ons het die film meestal geskiet in die plekke waar Ellen se storie in die regte lewe afgespeel het:  die polisiestasie, die hof, Ellen se huis – ons wou iets hê wat werklik waar is. Iets wat jou laat voel of jy regtig daar is,” het hy gesê.

Schalk-Willem Burger, die vervaardiger van Ellen, Die Ellen Pakkies Storie, het gesê die feit dat hulle in soveel van die werklike plekke opgeneem het, het met sy eie probleme gekom.

“Dit was ʼn baie interessante en ook moeilike projek om van deel te wees. Veral ook oor die logistiek. Ons wou kyk hoe eg ons Ellen se eie storie kon weergee. Die moeilikste deel vir ons was Lavender Hill, waar Ellen gewoon het. Daar was sewe bendes in die omgewing met wie ons moes onderhandel,” het Burger gesê.

“Ons het ook in Pollsmoor geskiet wat nie maklik was om gereël te kry nie. Maar op die ou end voel ons dat al die waarde-elemente bydra tot ʼn storie wat die kyker vat tot in ʼn wêreld wat baie getrou is aan Ellen se eie storie,” het hy gesê.

Joshua het gesê hy wou in die film fokus op die regte probleem, en nie te veel aandag gee aan ander elemente rondom dit nie.

“Ek wou die emosionele storie vertel, enigiets anders is clutter. Ek wou die storie vertel van familielede wat beïnvloed word deur verslaafdes – dit was my perspektief op die probleem, dit was Ellen se storie en dit is baie gesinne op die Kaapse Vlakte se stories,” het hy gesê.

Buiten die indrukwekkende span agter die rolprent, spog dit ook met ʼn sterbelaaide rolverdeling en lof stroom in vir dié groep akteurs wat hulle so skitterend van hulle taak kwyt.

Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos Genadekans, Noem my Skollie, Leemte, While You Weren’t Looking, Abraham, Bekkies gevind, As ek huistoe kom, Fluit-Fluit, Atlas, Uitvlucht en die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, is briljant in die hoofrol van Ellen Pakkies en het baie navorsing en moeite gedoen om haar vertolking so eg en eerlik moontlik te benader.

Elton Landrew, wat ʼn bekende gesig op die verhoog (District Six en Kat and the Kings) en televisie (Huis van liefde, Sara se geheim, Dryfsand en Suidooster) is, asook Kay Smith, wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Tarryn in 7de Laan, is ook in die fliek te sien.

Ander bekroonde akteurs wat ook te sien is in dié treffende film, is Clint Brink (Binnelanders), Ilse Klink (Stroomop, Isidingo) en Russel Savadier (The Wild, Isidingo, Black Sails).

Ellen, Die Ellen Pakkies Storie word op 7 September in fliekteaters landwyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nannie ·

Ek glo dit gaan n baie goeie fliek wees. Baie ouers het te doen met bende geweld asook dwels met hulle kinders. Sal beslis na hierdie fliek gaan kyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.