Luister: ‘Sink’: ʼn Baanbrekersfliek vir Afrikaans


'n Groepfoto van die bekendes. Foto: Adéle Changuion

‘n Groepfoto van die rolverdeling en vervaardigers. Foto: Adéle Changuion

Die fliekpremière vir die eietydse drama, Sink, was ʼn sterbelaaide geleentheid wat Woensdag plaasgevind het by Cedar Square in Johannesburg.

Sink ontgin die temas van verstrikking, verlies en vergifnis teen die agtergrond van die huidige Suid-Afrikaanse klassestruktuur en die ervarings van buitelanders in die land. Die fliek vertel die verhaal van drie mense wat probeer om ’n tragiese situasie te verwerk.

Die fliek is ook gegrond op ʼn novelle geskryf deur Brett Michael Innes met die naam Rachel Weeping. Innes, wat ook bekend is vir die roman, Die verhaal van Racheltjie de Beer, het tegelykertyd aan die draaiboekverwerking van die roman en die roman self geskryf.

Innes het vertel die erkenning wat die fliek tot dusver gekry het, is ʼn groot eer. “Ek dink enige erkenning vir ’n mens se werk gee jou die selfvertroue om nog meer te doen. In dié bedryf beteken erkenning van Silwerskerm en kykNET baie vir my.”

Dié fliek is onder meer in Leon van Nierop se nuwe boek, Daar doer in die fliek, onder die top-10 beste flieks van alle tye benoem.

Anel Alexander, wat ook ʼn hoofrol vertolk, sê dié boek het haar onmiddellik geïnspireer om ʼn fliek te maak. “Ek is ʼn aktrise en vervaardiger. Ek soek altyd na baie spesifieke projekte wat  doenbaar en uitdagend is. Ek wil ook graag hê my projekte moet ʼn storie met ʼn boodskap wees wat mense uitdaag,” het sy vertel.

Sy sê Sink gaan ʼn baanbrekersfliek wees. “Dit verhoog die standaard vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf. Ons wou lank net flieks maak. Noudat hier baie flieks is, moet ons begin fokus op gehalteflieks.”

Shoki Mokgapa, wat ook ʼn hoofrol vertolk, skerts dié rol het haar loopbaan gered. “Ek het gedog ek het nie meer ʼn loopbaan nie. Toe ek hoor hoe goed die fliek aanvanklik gevaar het, was ek verstom. Dis net ongelooflik! As ek nou na die erkenning kyk wat die fliek ontvang, is ek gevul met dankbaarheid.”

Sy vertel hoewel sy die rol vanuit die staanspoor wou vertolk, moes sy eers die vervaardigers oortuig. “Toe Brett die draaiboek geskryf het, het hy nie gedink ek sal die rol kan vertolk nie. Dis eers nadat hy ʼn ander stuk van my gesien het dat hy besluit het ek moet die rol van Rachel vertolk. Ek was so geëerd om deel te wees van die fliek en om saam met ʼn wonderlike rolverdeling soos hierdie te werk.”

Die aktrise Diaan Lawrenson, wat ook ʼn rol in die fliek vertolk, sê die fliek sal in alle opsigte ʼn treffer wees. “Dis ʼn eer om deel te wees van ʼn fliek wat grense verskuif ten opsigte van die tegniese aspekte, visuele aspekte, die styl, die skote en die akteurs. Die fliek is werklik ʼn treffer.”

Kyk die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.