Video: Gys de Villiers, New York hier kom ons!

gys-de-villiers

Gys de Villiers. Foto: Burger Meyer

Die afgelope vier jaar is die vermaakbedryf reeds aan ’t gons oor Gys de Villiers se drome om Amerika toe te gaan. Gys en sy vrou, Jacqui, het vier jaar gelede in New York vakansie gaan hou en is oorrompel deur die kuns, energie en kreatiwiteit in hierdie wêreldstad. Hulle het daar en dan besluit om die Groot Appel hul nuwe woonplek te maak.

Ná vier jaar se rompslomp het die twee uiteindelik in Oktober verlede jaar hul groenkaarte ontvang. Daar het een laaste, allesbepalende onderhoud oorgebly en op 11 Maart het hulle die groenlig gekry en kon hul tasse begin pak. Die twee vertrek binnekort na die VSA.

“In die tyd wat ons in Brooklyn met vakansie was, het ek twee toneelstukke geskryf,” gesels Gys kort voor sy vertrek. “Die energie van die plek is aansteeklik. In New York het ek geweet ek moet hardloop om by te bly, want daar staan die ouens nie stil nie. Dis wat ek soek – daai skop onder die sitvlak.”

gys-de-villiers

Gys de Villiers. Foto: Burger Meyer

Gys groet Suid-Afrika met ’n rol in die komedie Strikdas wat in April landwyd in teaters begin draai. In die rolprent vertolk hy die rol van Herman de la Harpe, ’n trotse wynboer met spesifieke idees vir sy dogter, Willemien, gespeel deur Leandie du Randt.

Hy loop self met ʼn rolprentdraaiboek rond, verklap Gys. Ongelukkig kon hy nog nie ʼn vervaardiger raakloop wat bereid is om ʼn kans daarmee te waag nie. “Dit sal vir my ʼn eer wees om in die voetspore van my pa, die rolprentmaker Dirk de Villiers, te volg.”

Gys droom om in New York in een van sy eenmanvertonings raakgesien te word. Hy het ’n stuk oor aardverwarming geskryf wat hy aan ’n museum in New York wil verkoop. “Die Museum of Natural History word daagliks deur honderde kinders besoek,” vertel hy. “Daar is ook talle kunsfeeste en randfeeste waar ek graag naam sal wil maak.”

Hulle is gereed vir die avontuur, sê Gys, duidelik opgewonde. “Ek is 54 jaar oud en ek en Jacqui is nog fiks en gesond. Ons het nie kinders of honde of enigiets wat ons hier hou nie. Gelukkig is dit nie ’n eksamen wat ek moet slaag nie en kan ek terugkom as dinge nie uitwerk nie. Dit is ’n wonderlike avontuur wat ons tegemoet hardloop!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neptunus ·

Wonder wat was Gys se politieke oorwegings in 1992, en wat is dit tans? Snaaks dat hy, wat al dekades se akteurservaring het, nou eers, op 54 besluit om in die VSA te gaan bly, hmmm….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.