Video: Hiér is lokprent vir Racheltjie de Beer-fliek

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die lankverwagte Afrikaanse rolprent, Die Verhaal van Racheltjie de Beer, word in Oktober vanjaar landwyd vrygestel.

Dié rolprent is geskoei op die topverkoper-roman met dieselfde naam deur die skrywer en rolprentmaker Brett Michael Innes.

Die fliek vertel die legendariese verhaal van die Afrikaanse gesin, die De Beers, wat in die 1800’s verplig was om skuiling op ʼn plaas in die Oos-Vrystaat, Suid-Afrika, te soek. Namate die winter aankom en donker wolke en sneeu oor die Drakensberge rol, word die toneel vir ʼn tragedie geskep.

“Die rolprent is geïnspireer deur die geliefde verhaal van die volksheldin, Racheltjie de Beer, en staan bekend as ʼn Afrikaanse storie vir alle Suid-Afrikaners, wat van geslag tot geslag oorgedra word,” het Innes gesê.

“Toe Racheltjie en haar broertjie van die res van hulle groep geskei is, het die jong meisie haar lewe opgeoffer om haar boetie te red en op dié manier is sy verewig in ons landsgeskiedenis as ʼn jeugdige heldin.”

“Om die heroïes emosionele en visuele aard van die storie te integreer, het ons die kinematografiese styl vir die grootskermervaring aangepas,” het die regisseur, Matthys Boshoff, verduidelik.

“Die rolprent beskik oor ʼn intieme dog epiese kwaliteit, wat strek van die klank en produksie-ontwerp tot die musiek, kamerawerk en die emosionele reis waardeur die karakters en die gehoor gaan. ʼn Groot deel van hierdie reis word verpersoonlik deur die transformasie van die landskap van welige laatsomer- tot barre middelwinterstoestande wanneer alles met sneeu bedek is. Die temas van lewe en dood, verlies, dapperheid, opoffering en liefde tree sterk na vore.”

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Wat is die kanse om die magte van die natuur te oorleef? Soos wat die pa en sy twee kinders en hulle gehawende wa deur die harde en ongenaakbare omgewing met die indrukwekkende Drakensberge teen die agtergrond trek, word dit duidelik hoe klein die mens in verhouding met die grootse skepping is.

“Ons wou nie die skoonheid van die berge probeer romantiseer nie, maar dit eerder op ʼn manier gebruik om die vasberadenheid en ongelooflike wil en aanpasbaarheid te probeer uitbeeld wat dit verg om met twee jong kinders en ʼn ossewa deur hierdie uitdagende landskap te reis,” het Boshoff gesê.

Die rolprent is op die plaas Tierhoek in die ruwe Oos-Vrystaat geskiet omdat die rolprentmakers ʼn plek gesoek het wat die harde werklikheid om in die 1800’s op ʼn afgeleë en onherbergsame plaas te woon, sou uitbeeld.

“Hoewel ons die tydperk nie onnodig wou romantiseer nie, was ons vasbeslote om ʼn plek te gebruik wat oor poëtiese kenmerke beskik en die storie tot sy reg sal laat kom,” het Boshoff bygevoeg.

“Geleë in ʼn vallei wat deur berge omring word en met ʼn plaashuis en buitegeboue wat in die 1870’s opgerig is, was Tierhoek die perfekte keuse. Die klipwerk is nog in ʼn uitstekende toestand en daar was min moderne elemente – geen telefoondrade of elektrisiteit nie. Die huis is nog nooit gerestoureer nie en het ʼn ou siel; mos groei teen die mure en brandmerke van die Anglo-Boere-oorlog is nog plek-plek sigbaar.”

Buiten die aksie wat plaasvind, is die rolprent se visuele effekte merkwaardig, veral vir ʼn Afrikaanse rolprent. “VFX-werk sluit elemente soos onweerswolke, ʼn luiperd, ʼn bobbejaan, ʼn sebra en vallende sneeu in,” het die vervaardiger, Johan Kruger, gesê.

“Na my wete het geen ander Afrikaanse rolprent VFX al op hierdie vlak ingespan nie en waarskynlik ook geen ander plaaslike rolprente nie, behalwe as groot internasionale deelname ter sprake was. Om verskeie redes kon ons nie anders as om in die winter en in werklike sneeutoestande te skiet nie.”

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Volgens Boshoff word meer as 220 visuele effekte in die rolprent gebruik. “Ons wou menslike eienskappe en gemoedstemminge toedig aan die weer, en in die besonder die storm. Ons het dus nie net ʼn skoon hemelruim met afgesaagde beelde van wolke vervang nie, maar eerder ons eie wolkestelsel saamgestel wat ons kon manipuleer en rondbeweeg soos dit ons pas. Dit het ons toegelaat om aan die storm ʼn persoonlikheid te gee, om dit donkerder te maak, vinniger te laat beweeg en die landskap met weerlig dreigend te maak.”

Die sterbelaaide rolverdeling sluit Stian Bam, Zonika de Vries, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Louw en Beate Opperman in. Johannes Jordaan vertolk sy heel eerste rol as Racheltjie se kleinboet in hierdie prent.

“Die legende van Racheltjie de Beer is ʼn verhaal vir alle tye en baie Suid-Afrikaners beskou dit as deel van hulle erfenis,” het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution, gesê. “Dit is vir ons ʼn voorreg om betrokke te wees by die herlewing van haar storie op die silwerskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ellisras ·

Die woord storie word ‘n paar keer gebruik. En dit is wat dit is. Net ‘n storie. Fiksie. Die verhaal van Racheltjie de Beer het nooit gebeur nie. Dit is ‘n verhaal wat uit die VSA kom. Net soos Rooikappie uit Duitsland kom.

Akram ·

Ek het ook gehoor dat die verhaal nie sy oorprong het soos deur die geskiedenis uitgebeeld word nie. Nou wonder ek net, indien dit dit so is,hoe word die huidige beinvloed? Ek het die verhaal op skool geleer. Ek sal graag dit wil sien op die silwerdoek.

Riaan ·

Dis gegrond op die verhaal van Hazel Minervan North Dakota. Eugène Marais het die gebeure as ‘n Afrikaanse verhaal versin en mense het dit later maar net as die waarheid aanvaar. Maar Rachel de Beer self het nooit werklik bestaan nie, nee.

A ·

Ek was jare laas in die fliek, maar ek dink ek gaan moeite doen om hierdie een te kyk.

cr ·

Bestaan Inry fieks dan nog, ek het nog laas ‘n fliek gesien by Hartebeespoort inry maar hy is nou toe.

bloudrom ·

Ja daar is nog ‘n inry op omtrent elke dorp. Dis snaaks dat Hartebeespoort sn toegemaak het.

AJ ·

Hi Bloudrom.

Pothcefstroom het ook nie meer ‘n inry teater nie..

Cora Simpson ·

So n fliek om, na uit te sien. Ons sal genoeg sneesdoekies moet saam neem. Mens kan tog so lekker huil as jy hartseer voel saam met die ours (al is dit lank gelede)

Gawie ·

Sal beslis gaan kyk. Ek het in 1971 die rol van Racheltjie se boetie gespeel in ‘n skooloperette “My Suiderland” in die Kleinteater. Gerhardt Korsten het ook daar deelgeneem as ek reg onthou. Jinne, nou voel ek sommer oud!

Anoniem ·

Ek wil die fliek graag sien. Ek weet ek gaan my oë uit huil maar ek wil dit sien..

Fanie Kemp ·

Dit gaan hier oor die Universele waarheid dat daar baie kinderhelde is – soos Dirkie Uys, Japie Greyling en talle ander uit ons eie Geskiedenis. Dit is dus net reg dat die verhaal van Racheltjie de Beer visueel vertel word as inspirasie vir en om trots by ons Jeug aan te wakker.
Laat ons nou nie weer die waarde van die film afkraat deur ‘n gekibbel oor of dit outentiek is al dan nie.
Ek hoop die filmmakers wil meer sulke inspirerende films maak waarmee ons Jeug kan identifiseer in plaas van die baie gemors waaraan hulle blootgestel word.

WARE AFRIKANER ·

Of dit nou fiksie of ‘n ware gebeurtenis is, mense sal altyd ‘n vrot appel te skil hê.

Narsiste is oral besig om hul bekke te rek oor iets wat hulle nie self ‘n beul oor kan blaas nie.

Volgens sulke mense bestaan ons geskiedenis seker ook nie.

Ai dit is maar moeilik om sekere mense te behaag, shame.

Dié verhaaltjies wat geslagte lank oorgedra word is die waarheid. My grootouers was nie leunaars nie en dus my onderwysers ook nie.

Dit gaan ‘n groot voorreg wees om die fliek te sien. Dankie aan almal betrokke.
XX

Logika ·

Dit is algemeen vir stories wat op die waaheid gebaseer is om verwerk te word, on sodoende die gehoor te akkomodeer. Dit is selfs vandag nog alledaags (dink maar aan films soos Braveheart). Daar is geen oneerlikheid betrokke nie – dit gebeur maar net. So ook in die geval – dit was ‘n verwerking en mense het dit maar bloot net as geskiedenis interpreteer. Dit is goed so, want die storie het nogsteeds sy impak op ons volksbewussyn gehad. Om die waarheid te leer rondom die verhaal vat niks van ons af weg nie – dit beteken bloot dat ons volwasse genoeg is om die waarheid voorop te stel, die goeie uit die storie te neem, en voort te gaan.

Louis ·

Ek wou baie graag my twee dogters gan wys het waar is sy begrawe. Na baie navrae het ons in W.A De Klerk se boek die plek gekry waar sy begrawe moet wees. Dit is in die Wakkerstroom distrik aan die Transvaal se kant van die Drakensberge.
Het ook bevestiging gekry vanaf die burgermeester van Wakkerstroom dat dit wel die geval is. My navraag was om en by 1992 tot 2003.

Cornette ·

Dis ñ verhaal wat my as kind totaal en al aangegryp het!!! Ek’t dit oor&oor gelees en altyd gewonder of my broer vir my so iets sou doen…want ek glo nie ek sou nie….hahahaha.
Ek’t die storie vir my 2 kinders ook altyd vertel toe hulle nog klein was en vandag lees ek dit vir my 5 kleinkinders waarvan diir jongste maar 4jr oud is.
Dit maak nie aan my saak wat die oorsprong van die verhaal is nie – dis die inhoud van die verhaal!!! Toe ek op FB lees van die film was ek SO opgewonde dat ek dit dadelik wou gaan kyk…en ai toe lees ek dit kom eers in Oktober uit!! Ek kan nie wag om al 5 die kleinkinders fliek toe te vat nie maar grootendeels gaan dit oor myself wat hierdie verhaal in ñ fliekvorm sal wil beleef.
BAIE baie dankie dus aan die regiseur,akteurs en AL die werkers wat gewerk het daaraan om hierdie verhaal na die skerms toe te bring! Dankie dankie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.