Video: Kortfliek werp lig op nagevolge van plaasaanvalle

Martelize Kolver as “Elize” en Nicola Hanekom as “Ronelle” in die kortfliek ‘Plaashuis’.

Die Afrikaanse kortfliek, Plaashuis, vertel die verhaal van ʼn vrou wat aan die inwoners van haar dorp skoonmaakdienste verskaf. Nadat sy ʼn oproep ontvang en gevra word om ʼn plaasmoordtoneel skoon te maak, vra sy haar vriendin om haar te help.

Gedurende die skoonmaakproses word dié twee vroue, wat deur Martelize Kolver (Hotel, ʼn Pawpaw vir my Darling) en Nicola Hanekom (Faan se trein, Hollywood in my huis) gespeel word, nie net met die stille getuienis van ʼn plaasmoord gekonfronteer nie, maar ook wat dit werklik beteken om verantwoordelikheid vir hul medemens te neem.

Albert Pretorius (Nêrens, Noord-Kaap, Die Seemeeu) is ook deel van die rolverdeling en hy is te sien in die rol van ʼn boer van ʼn aangrensende plaas.

Albert Pretorius as “Thys” in die kortfliek ‘Plaashuis’.

“Dit is uit respek vir diegene wat werklik op ʼn plaas aangeval is dat dié kortfliek eerder fokus op wat ná die aanval of moord gebeur,” het Dian Weys, regisseur en skrywer van Plaashuis, aan Maroela Media vertel.

Weys benadruk dat plaasaanvalle ʼn belangrike onderwerp is wat op ʼn verantwoordelike wyse benader moet word.

Dian Weys se kortfliek ‘Bergie’ wys by vanjaar se Silwerskermfees .(Foto: Retha Ferguson)

“Ek stem nie saam met hoe die meeste flieks geweld voorstel nie. Geweld is nie vermaak in die werklike lewe nie, maar eerder traumaties en ontstellend. Boonop word ons as gehoor ook selde gekonfronteer met wat ná die geweld plaasvind.”

Die vervaardiging van Plaashuis in 2020 is te danke aan ʼn skarefinansieringsveldtog wat van stapel gestuur is. Sedert die fliek voltooi is, is dit by agt rolprentfeeste wêreldwyd vertoon. Dit sluit onder meer die Tampere-rolprentfees (Finland), Message to Man-fees (St. Petersburg, Rusland), Regensburg Kurzfilmwoch (Duitsland), Foyle-fliekfees (Ierland) en die GwangHwaNum-kortprentfees (Suid-Korea) in.

Weys is ook die skrywer en regisseur van die kortflieks Versnel en Bergie. Versnel, wat in 2017 toekennings vir beste rolprent en draaiboek in die kort-kortfliekkategorie by kykNET se Silwerskermfees gewen het, het sedertdien by 15 rolprentfeeste gewys, waaronder vyf feeste wat vir die gesogte Oscars kwalifiseer. Hanekom beskryf Weys se teks as “sensitief en aangrypend” en sy voel sterk daaroor dat die fliek gemaak moes word.

“Ek dink Dian het ongelooflike integriteit in sy benadering tot dié kwessie. Hy is iemand wat insig kry, nie net deur navorsing nie, maar ook deur sy medemenslikheid.”

Plaashuis is Woensdag amptelik aan plaaslike gehore bekendgestel en kykers kan dit gratis op YouTube kyk.

‘n Skermgreep uit die kortfliek ‘Plaashuis’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.