[Video] Kykers kou naels by première van ‘Die Ontwaking’-fliek

Die akteurs Juanita de Villiers en Gèrard Rudolf by die première. Foto: Adele Changuion

Die akteurs Juanita de Villiers en Gèrard Rudolf by die première. Foto: Adele Changuion

Die amptelike première van die Afrikaanse rillerfliek, Die Ontwaking, het Woensdag in Rosebank in Johannesburg plaasgevind.

Die fliek is gegrond op die bekroonde skrywer, Chris Karsten, se boek met dieselfde titel en verken hoe gemeenskappe getraumatiseerde individue kan oplewer wat hulle uiteindelik tot gewelddadige gedrag wend en selfs psigopate word.

Die riller vertel die storie van die komplekse en dinamiese verhouding tussen die geestelik versteurde dog simpatieke Abel Lotz (Gys de Villiers) en ’n mooi jong speurder, Ella Nesser (Juanita de Villiers), wat pas aangestel is om moordsake op te los.

De Villiers sê dié fliek is beslis op internasionale peil. “Dit gaan vir seker baanbrekerswerk wees. Die storie is ongelooflik. Die fliek gaan in die buiteland ook aandag trek.”

Sy sê die span het darem nie naels gekou tydens die verfilming van die fliek nie. “Ons het baie lekker gelag met die skiet van die fliek. Partykeer het ek tog maar twee keer oor my skouer gekyk om seker te maak almal is nog daar.”

Gèrard Rudolf, wat die rol van die ervare speurder vertolk, sê met ʼn regisseur soos Johnny Breedt aan die stuur beloof die fliek om uitstekend te wees. “Johnny Breedt is ʼn legende in die rolprentbedryf. Dit was sy eerste fliek en ek wou baie graag deel wees daarvan.”

Hy vertel dit is egter belangrik vir akteurs om te onthou dat daar ʼn verskil tussen fiksie en die werklikheid is, en dat dié fliek baie harde werk geverg het. “ʼn Fliek het nie eintlik baie met die werklikheid te doen nie. Ek het die harde werk wat daarin gegaan het, geniet. Ons het in die middel van die dag begin skiet en in die middel van die nag opgehou.”

Jaco Muller, wat die rol van die joernalis vertolk, sê flieks in dié genre is nog ʼn eksperiment in Suid-Afrika. “Ons is nuuskierig om te sien hoe die nuwe genre in teaters vaar. Ons hoop dit is suksesvol sodat ons net hierop kan voortbou.”

Selfs die veteraanspeurder, Pieter Byleveld, was by die première. “Ek sien verskriklik uit na die fliek en om te sien hoe dit vergelyk met die werklike lewe. ʼn Reeksmoordenaar moet met handskoene hanteer word. Ek is opgewonde oor die eerste uitbeelding hiervan in die Afrikaanse rolprentbedryf.”

Ander akteurs soos Gys de Villiers en Armand Aucamp is ook in die fliek te sien.

Die Ontwaking word van 26 Februarie landwyd in teaters vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.