[Video] ‘Liewe Kersfeesvader’ vertel oor liefde én verlies

Liewe Kersfeesvader (Foto: Verskaf)

Die draaiboekskrywer en rolprentregisseur Etienne Fourie wat bekendheid verwerf het vir prente soos Die Windpomp en Dis koue kos, skat keer dié Vrydag terug met ʼn splinternuwe Afrikaanse Kersfeesfliek, Liewe Kersfeesvader.

Dié rolprent vertel die verhaal van die jong Nonnie – ʼn teësinnige skoonheidskoningin (Mila Guy) wat oornag volwassenheid moet betree wanneer haar ma (Milan Murray) die gesin verlaat vir ’n lewe in die sirkus en haar pa (Morné Visser) ’n nuwe identiteit as Kersfeesvader aanneem.

Terwyl Nonnie haar lewe en haar liefdes moet balanseer, word sy ook gedwing om haar eie betekenis van familie te herdefinieer. Dít met ʼn kranksinnige pa, ʼn vatbare boetie (Eloff Snyman) en ʼn romanse met haar beste vriend (Dean-John Smith).

Liewe Kersfeesvader, waarvan die première vroeër vanjaar by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad gehou is, het reeds dawerende resensies ingepalm soos onder meer dié van die resensent Reney Warrington. Warrington skryf dié fliek herinner aan The Dressmaker en selfs Strictly Ballroom.

Liewe Kersfeesvader (Foto: Verskaf)

“Eloff Snyman beïndruk en Milan Murray steel elke toneel waarin sy verskyn, maar dit is uiteindelik Mila Guy se vertolking wat die fliek dra. Jy lag vir haar, jy voel vir haar. Sy voer jou mee,” skryf Warrington.

Fourie sê dié draaiboek sal deur jonk én oud geniet word. “Die fliek handel oor familie, die moeisame oorgangsproses van kind-wees na volwassenheid en, meer as enigiets anders, liefde. Die storie verskaf ʼn blik op ʼn gewone, skynbaar onmerkwaardige familie wat ongewone uitdagings teëkom. Dit is ʼn storie oor die besluit om vir jou familie lief te wees en om hulle te aanvaar, nie ten spyte van hulle tekortkominge nie, maar as gevolg daarvan. Dit is ʼn storie oor verlies en hoe daar niks meer doeltreffend as tragedie is om ʼn gebroke familie weer saam te gom nie,” sê hy.

Die rolprent is deur Fourie geskryf. Hy is ook die regisseur. Stefan Enslin is die vervaardiger. Ander akteurs wat in die prent te sien is, sluit in Terence Bridgett, June van Merch en Melt Sieberhagen.

Liewe Kersfeesvader is vanaf 17 November in teaters landwyd te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.