Video: Magiese ‘Meerkat Maantuig’ ʼn fliek vir almal

meerkat maantuigDie span van Meerkat Maantuig het Maandagaand by die Cresta-winkelsentrum in Johannesburg byeengekom vir die première van dié splinternuwe fliek.

Hanlé Barnard (Mathilda de la Rey), Drikus Volschenk (Gideon de la Rey), Pierre van Pletzen (Oupa) en Rika Sennett (Ouma) het ʼn draai kom maak by die vertoning van dié fliek wat sy buiging op verlede jaar se Silwerskermfees gemaak het.

Anchen du Plessis, wat die rol van Gideonette de la Rey vertolk, het saam met haar medester, Themba Ntuli, wat die rol van Bhubesi speel, na die fliek kom kyk.

Meerkat Maantuig vertel die storie van Gideonette de la Rey, ʼn skrikkerige 13-jarige meisie wat glo die vloek wat haar familie al vir jare teister, sal haar ook in sy greep kry en dat sy die volgende een is wat voortydig sal sterf.

Sy is bang en desperaat en kan nie ontsnap uit die storie wat haar werklikheid definieer nie. Uiteindelik kan sy slegs haar vrese oorkom deur dít waarvoor sy bang is, tegemoet te gaan.

Die regisseur van die fliek, Hanneke Schutte, het die draaiboek van die fliek, gegrond op die novelle Blinde sambok deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer Riana Scheepers, verwerk. Die verhaal speel af in die wonderlike woude van Magoebaskloof.

Scheepers en Schutte het ook die glansgeleentheid bygewoon. Volgens Scheepers sal sy mense aanmoedig om na die fliek te gaan kyk “sodat hul weer kind kan word”.

“Om weer te kan besef dat wonderwerke moontlik is, om weer fantasie te kan beleef en skoonheid te kan ervaar,” het sy gesê.

Meerkat Maantuig begin op 16 Maart in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.