Video: Marita van der Vyver gesels oor nuwe fliek

Marita van der Vyver. Foto: Maroela Media

Marita van der Vyver. Foto: Maroela Media

Die skrywer, Marita van der Vyver, is tans in Suid-Afrika vir die bemarking van die rolprent “Dis koue kos, skat “, wat op haar boek gebaseer is. Maroela Media het met Marita gesels by die Silwerskermfees in Kampsbaai.

Dit is Marita se tweede boek wat in ʼn rolprent omskep is. “Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom” (ook met Anna-Mart van der Merwe) is in 2010 uitgereik.

“Hierdie keer was ek baie meer betrokke, want ek het gehelp om die draaiboek te skryf en was ook mede-vervaardiger saam met Deon Meyer én ek was op die filmstel,” het Van der Vyver gesê.

Die regisseur van die rolprent, Etienne Fourie, het Marita help skryf aan die draaiboek en Marita sê dit was ʼn uitdaging om te kies watter dele van die boek gesny gaan word, aangesien mens nooit ʼn hele boek in die tyd van ʼn rolprent sal inpas nie.

“Dis vreeslik moeilik! Dis soos wat Oscar Wilde gesê het oor ‘killing your darlings’. Dit is hoekom dit lekker was om ʼn mede-skrywer te hê. Wat Etienne veral moes doen, was daai ‘keelafsny’ van my darlings. Maar ek dink ons het getrou gebly aan die kern van die storie.”

Die skrywer Deon Meyer het Marita ook raad gegee oor dié moeilike proses aangesien hy ervaring in beide mediums het.

“Hy het vir my gesê die enigste sekerheid in die rolprentbedryf, is dat alles onseker is. Ek het baie daaraan vasgehou. Maar die hele proses is baie goed vir my omdat dit my bietjie leer om te laat gaan.”

Kyk die video om te hoor watter raad Marita vir voornemende skrywers het.

“Dis Koue kos, skat” begin 26 Augustus landwyd in teaters draai. Met Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz, Frank Opperman, Elzabe Zietsman, Angelique Gerber, Deandre Reiners, Zonika de Vries en Riaan Visman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.