[Video] ‘Modder en Bloed’: 5 dinge waarmee bekendes sal oorleef

Modder en Bloed. Foto: Verskaf

Modder en Bloed. Foto: Verskaf

Die fliekpremière vir die epiese periodefliek, Modder en Bloed, het Donderdag by Cedar Square in Johannesburg plaasgevind. Verskeie bekendes soos Leandie du Randt, Bok van Blerk, Hanna Grobler, Amalia Uys en Willem Botha het dié geleentheid bygewoon.

Modder en Bloed vertel die boeiende verhaal van Willem Morkel (Stian Bam) ná sy vrou en kind in die Anglo-Boereoorlog in 1901 vermoor is.

Ná die moord op sy vrou en kind in Suid-Afrika word Morkel verban na St. Helena waar hy saam met ander boere gevange gehou word. Tydens die gevangenskap is daar geen genade vir hulle nie en hulle leef in haglike omstandighede. Hoewel elke dag ’n stryd om oorlewing word, moedig dit kameraadskap onder die gevangenes aan wat hulle so heg soos ’n familie maak.

Stian Bam het vertel dié rol is een wat hy geweet het hy móét speel. “Dit is baie selde dat ’n mens die geleentheid kry om ’n rol soos hierdie te speel en van ’n film soos hierdie deel kan wees. Ek het geen oomblik getwyfel toe Sean my gevra het om die rol van Willem te speel nie,” het hy gesê.

David Louw, wat bekend is vir sy rol as Petrus in Villa Rosa, sê die fliek raak baie temas aan. “Daar is soveel aspekte en fasette van die fliek. Dit gaan oor die oorlog, maar dit gaan ook oor die volk en dinge wat betrekking het op vandag. Dit gaan oor ʼn verbintenis en om sterk te wees in ʼn groep en alleen.”

Grant Swanby, wat die rol van die nare kolonel Swanell in die fliek vertolk, sê hy is moontlik die donkerste karakter in die fliek. “Jy kan nie ʼn slegter persoon as ek kry in die fliek nie. Hy hou nie van die Engelse nie, maar hy het ʼn diep haat vir die boere. Hy vermoor links en regs.”

Hy sê hy weet nie hoe hy weer sy gesig in ʼn winkelsentrum in Suid-Afrika gaan wys nie. “Hulle het vir my gesê ek sal glad nie weer in Pretoria kan rondloop nie, veral omdat ek rof raak met Bok van Blerk. Ek dink egter ons mense verstaan dat mense verskillende rolle in flieks vertolk,” het hy geskerts.

Marno van der Merwe sê Modder en Bloed vertel ʼn belangrike deel van die geskiedenis wat dikwels afgeskeep word in skole. “Die fliek gaan jonger mense vertel van dele van die geskiedenis wat verlore raak in die onderwysstelsel. Dit lig mense in oor wat daardie tyd gebeur het en waardeur vorige generasies is. Dit herinner ouer Afrikaners ook waardeur ons is en maak ons weer trots.”

Altus Theart, van Getroud met Rugby-faam, sê die fliek is ʼn groot deel van Afrikaner wees. “Die storie moet vertel word. Dis nie noodwendig net Engels teen Afrikaans nie, maar metafories vir elke stryd wat elkeen elke dag stry. Dis ʼn storie van nooit opgee nie.”

Ander akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Jacques Bessenger, Bok van Blerk en Michael Richard maak ook hul verskyning in die film. Britse akteurs soos Charlotte Salt (Katherine Sterndale), Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers is ook in die fliek te sien.

Ons het die bekendes gevra om vyf dinge te noem waarmee hulle sal oorleef as hulle alleen op St. Helena is. Kyk die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.