[Video] ʼn Eerste kykie na Tobie Cronjé as Lafras Verwey

Tobie Cronjé (Foto: Verskaf)

Tobie Cronjé (Foto: Verskaf)

Die gewilde radiodrama en verhoogstuk deur die veelbekroonde skrywer Chris Barnard, Die Rebellie van Lafras Verwey, gaan op 7 April vanjaar die grootskerm tref.

Die amptelike lokprent vir dié fliek is ook Woensdag amptelik bekendgestel.

Dié tragi-komedie is gebaseer op Barnard se 1971-drama en is deur sy seun, Simon Barnard, verwerk in ’n draaiboek.

Die fliek vertel die verhaal van Lafras Verwey, ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie. Verwey werk vir die staat, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms. Hy sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander.

Tobie Cronjé (Foto: Verskaf)

Tobie Cronjé (Foto: Verskaf)

Wanneer hy Petra (Chantelle Phillipus), ’n jong swanger vrou, in sy huis inneem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis. Ironies genoeg, begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word.

Die Rebellie van Lafras Verwey word vervaardig deur die aktrise en regisseur Katinka Heyns en Genevieve Hofmeyr, onder leiding van opkomende filmmaker, Simon Barnard.

Die naamrol word vertolk deur Tobie Cronjé. Ander akteurs sluit in Neels van Jaarsveld, Chantell Phillipus, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius.

Die fliek se amptelike premiѐre sal op 9 Maart by die Woordfees in Stellenbosch plaasvind.

https://youtu.be/mlU_0XZs-MY

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.