Video: ʼn Kykie agter die skerms van ‘Ander mens’

Bennie Fourie as Daniël Niemand in “Ander Mens”. (Foto: Verskaf)

Ander Mens begin einde vandeesmaand in rolprentteaters draai, maar fliekgangers kan nou reeds ʼn kykie agter die skerms van dié aksiekomedie kry.

Die rolprent, met Bennie Fourie en Marlee van der Merwe in die hoofrolle, vertel die verhaal van Daniel Niemand, ʼn passiewe rekeningkundige wat van een mislukking na die volgende voortbestaan. “Hy is die tipe ou wat nog altyd iets wil sê wanneer iemand hom swak hanteer, maar hy het dit nog nooit gesê nie. So hy staan glad nie op vir homself nie,” vertel Fourie.

“Maar daar is iets binne hom wat binnekort gaan ontplof.”

Die probleme begin wanneer Daniel se vrou hom vir ʼn ander man – hulle huweliksberader – los. In ʼn wanhopige poging om sy eer te herwin, veroorsaak Daniel per ongeluk die huweliksberader se dood en beland hy in iets waarvoor hy nie voorbereid was nie.

‘n Toneel uit “Ander Mens”. (Foto: Verskaf)

Sy baas, Frank, en dié se broer, Hansie, bied aan om Daniel te help om van die liggaam ontslae te raak, maar dit is nie lank voor die polisie aan Daniel se deur klop en hom in hegtenis neem nie. Kapt. Acker soek al jare lank ʼn rede om vir Frank toe te sluit, en Daniel mag dalk net die perfekte geleentheid daarvoor bied…

“Daniel beland in iets waarvoor hy nie gevra het nie en hy word heen en weer tussen Acker en Frank Redelinghuys gestuur sonder dat hy weet wat aangaan. Maar gelukkig kry hy die kans om ʼn ander mens te wees,” verduidelik James Borthwick wat die rol van Acker vertolk.

Frank Opperman is te sien as die skurk in “Ander Mens”. (Foto: Verskaf)

Frank Opperman is te sien in die rol van Frank Redelinghuys en hy meen dit is groot pret om die skurk in die rolprent te kan vertolk. “As dit kom by rolle in ʼn rolprent, is ʼn skurk altyd die lekkerste ding om te speel. Ek bedoel, wie wil ʼn good guy wees? Ek geniet ʼn skurk-rol. Ek kry nie baie die kans om die skurk te speel nie, ek speel gewoonlik die idioot. So ek geniet dit baie om die skurk te speel!” vertel hy.

Van der Merwe sê op haar beurt haar rol as lt. Erica Kruger is ʼn droom wat waar word.

Ander Mens is ʼn baie opwindende nuwe stuk. Dit is ietsie vars en nuuts en ek dink die rolprent is definitief iets wat bydra tot die landskap. Dit is iets wat ons nie noodwendig baie in Afrikaans sien nie,” sê Jaco Smit, vervaardiger van die rolprent.

“Ek dink die storie is uniek en dit is ʼn storie wat jou sal boei tot aan die einde wanneer die groot klimaks van die film dit uitspeel.”

Ander Mens sal vanaf 23 Augustus landswyd in teaters te sien wees. Regie deur Quentin Krog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Connie ·

Ek glo nie ek sal gaan kyk nie. Seker weer net ‘n gevloek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.