Video: ‘Noem my skollie’: Hoop, aanvaarding en vergifnis

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Tarryn Wyngaard Dann-jacques Mouton. Foto: Verskaf

Die nuwe Afrikaanse fliek, Noem my Skollie, wat gegrond is op ʼn ware lewensdrama, gaan leer oor hoop, aanvaarding en vergifnis. Dié fliek begin op 2 September landwyd in teaters draai, en Maroela Media deel nou eksklusief ʼn tweede kykie agter die skerms van die fliek.

Dié fliek handel oor die lewensverhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (70) en vertel hoe dié suksesvolle skrywer en regisseur agter ʼn vullishoop grootgeword het. Met geen heenkome nie en as lid van ʼn bende het hy daarin geslaag om sy lewe om te draai met die krag van geloof.

Dié fliek, met Daryne Joshua as regisseur, speel af op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-gevangenis.

Die fliek het ook geskiedenis gemaak toe dit die afgelope week by Pollsmoor-gevangenis vertoon is. Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is, voordat dit landwyd op die grootskerm vrygestel word.

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Noem my Skollie vertel die verhaal van vier tieners – AB (Austin Rose) en sy drie beste vriende, Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk) – wat in die armoedige bendewêreld van die Kaapse Vlakte grootword. Die vier probeer die bendes vermy wat eintlik deel is van hul daaglikse lewe, maar wanneer AB deur ’n traumatiese ondervinding gaan, besluit hulle om ’n bende te stig om hulself te beskerm.

Die vier vriende pleeg nie ernstige misdade nie, maar word deurentyd deur die polisie dopgehou. Uiteindelik word die ouer AB (Dann-jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem tydens ’n inbraak en tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

AB besluit in die tronk om sy storievertel-talent te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak, terwyl sy vriend Gimba ’n ander pad inslaan om sy veiligheid te waarborg.

Wanneer hy eindelik vrygelaat word, laat ʼn ondeurdagte besluit almal weer in die moeilikheid beland.

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Noem my Skollie (Foto: Verskaf)

Die klankbaan is geskep deur die gerekende Kaapse musikant Kyle Shepherd. Shepherd was in 2014 die Standard Bank Jong Kunstenaar vir jazz.

Ander akteurs in die rolverdeling sluit in Christian Bennett, Gershwin Mias, Oscar Peterson, Abdu Adams, Peter Butler, Charlton George, Jill Levenberg, Denise Newman, Sandi Schultz, Andre Roothman, Paul du Toit en Irshaad Ally asook die nuweling David Manuel wat die rol van die tronkbaas vertolk.

Noem my Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI en word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Die fliek se première vind op 24 Augustus om 20:00 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai plaas.

Die fliek begin op 2 September landwyd in teaters draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Dit klink Na ‘n DIEP FLIEK!!!
Ek hoop dat baie mense se oe gaan oopgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.