Enige fliekganger wat dol is oor romantiese tiener-komedies kan uitsien na die nuwe Film Factory-produksie, Jou Romeo.
Die fliek vertel die verhaal van die sportiewe Marko Marais (Ruan Wessels) en kunstige Yvette Verwey (Elani Dekker), wat noodgedwonge saam in die skool se verhoogproduksie van Shakespeare se Romeo en Juliet speel.
In ’n sportmalskool is Yvette, haar vriend Tyler (Christopher van der Westhuizen) en die dramabrigade ’n piepklein kunssinnige minderheid en hulle het slegs een doel voor oë – om Romeo en Juliet in hul matriekjaar op die planke te bring.
Wanneer die begroting vir die verhoogproduksie gesny word vir opknappingswerk aan die krieketklubhuis maak die verpletterde Yvette en Tyler ʼn plan om hul opvoering te red. Hierdie plan het egter onverwagse gevolge vir die nuwe held van die vertoning, die hartebreker Marko.
Terwyl Yvette nie Marko se beste belange op die hart dra nie, kom sy egter tot ander insigte wanneer sy besef dat Marko meer is as net nog ’n mooi glimlag met ʼn swetterjoel aanhangers en skielik sien Marko hierdie mooi rooikop ook in ’n ander lig.
Die fliek verken interessante temas oor “hoe om te behoort”, ander na waarde te skat en om ongewone eienskappe in ander te ontdek. Voeg ’n tikkie romanse by, sprinkel ’n bietjie liefde oor en dit is die perfekte somersfliek om jou in te verlekker.
Gesoute akteurs soos Diaan Lawrenson, Sarahann Doherty en Dirk Stoltz wys ook gesig in dié rolprent. Die regisseur is André Velts van Die Pro-faam en die draaiboek is geskryf deur Tina Kruger, Danie Bester en Berdene Burger.
Jou Romeo begin op 23 Desember draai in fliekteaters landwyd.
Die lokprent is onlangs vrygestel: