Video: Regisseur vertel vasbyt kry ‘Liewe Lisa’ op silwerskerm

Zane Meas, Elani Dekker en Hendrik Cronjé is te sien in 'Liewe Lisa'. (Foto: Maroela Media)

Zane Meas, Elani Dekker en Hendrik Cronjé is te sien in ‘Liewe Lisa’. (Foto: Maroela Media)

Die span van Liewe Lisa het Woensdagaand in Sandton, Johannesburg, byeengekom vir die première van dié splinternuwe Afrikaanse rolprent.

Liewe Lisa se draaiboek is geskoei op die Oscar-bekroonde 1967-rolprent, The Graduate, met Dustin Hoffman en Anne Bancroft in die hoofrolle. Liewe Lisa is die debuutrolprent deur die onafhanklike rolprentmaatskappy Kompanjie Stories, onder leiding van die akteur en skrywer Hendrik Cronjé.

Die fliek handel oor Daniël, ʼn student wat heimlik daarvan droom om ʼn skrywer te word. In sy strewe na opwinding raak by betrokke in ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn invloedryke sakeman se vrou. Dinge neem ʼn dramatiese wending wanneer hy verlief raak op dieselfde sakeman se dogter.

Nadat sy foute aan die lig gekom het, roep Daniël die koers wat die lewe vir hom bepaal het vaarwel en ontmoet hy vir Tom – ʼn eenvoudige visserman wat hom help om sy ware potensiaal te bereik.

Cronjé vertolk die rol van Daniël teenoor Elani Dekker wat die rol van Lisa vertolk. Zane Meas is te sien as Tom, die visserman. Barbara-Marie Immelman en die gesoute akteur Albert Maritz, wat tans te sien is in die kykNET-reeks Dwaalster, is ook in dié fliek te sien. Immelman vertolk die rol van Lisa se ma, Michelle, en Maritz is te sien as Lisa se sakeman-pa, Frans.

Hendrik Cronjé vertolk die rol van Daniël. Hy het ook die draaiboek geskryf en die regie en redigering behartig. (Foto: Maroela Media)

Hendrik Cronjé vertolk die rol van Daniël. Hy het ook die draaiboek geskryf en die regie en redigering behartig. (Foto: Maroela Media)

Stiaan Bam vertolk die rol van Frank, die kroegeienaar, terwyl Crystal-Donna Roberts die rol vertolk van Lara, wat in die kroeg werk. Marco Spaumer is te sien as Willem, die ander man wat ook Lisa se hart probeer wen.

Benewens sy rol as Daniël het Cronjé ook die draaiboek geskryf, die fliek geredigeer en die regie behartig. Hy vertel die fliek The Graduate het as rolprentstudent aan die Universiteit van die Vrystaat ʼn groot impak om hom gehad toe hy tydens een van sy honneursklasse daarna gekyk het.

“Ek onthou ek het gedink die eerste fliek wat ek wou maak, moet iets soortgelyk wees. Daar het die storie van Liewe Lisa begin. Daar is ook ʼn toneel in Liewe Lisa wat ek ingesluit het as huldeblyk aan The Graduate,” sê Cronjé.

Hy voeg by dat dit vir hom as skrywer en regisseur bevredigend was om te sien hoe die karakters wat hy in sy kop geskep het, gestalte kry op die silwerdoek.

“My kop is op ʼn daaglikse basis vol nuwe idees vir stories. Ek kry hulle van oral af. Ek hoef nooit daarvoor te gaan soek nie. Dit kom uit ʼn liedjie, ʼn boek, ’n fliek of enigiets wat daardie saadjie kan plant. As jy pligsgetrou genoeg is om dit neer te skryf, het jy ʼn vars idee,” sê hy.

Elani Dekker vertolk die rol van Lisa. (Foto: Maroela Media)

Elani Dekker vertolk die rol van Lisa. (Foto: Maroela Media)

Vanweë Cronjé se groot behoefte om sy eie flieks te maak het hy kragte saamgesnoer met sy broer, Johan Tobias Cronjé, en hulle het begin gesels oor Liewe Lisa, toekomstige rolprente en die behoefte aan rolprente geskoei op stories uit die werklike lewe.

Gevolglik het die Cronjé-broers besluit om hul rolprente op eie stoom te vervaardig. Voorproduksie vir dié fliek het vinnig vorm begin aanneem en met toewyding en vasberadenheid, het die broers alles self gedoen – van liggingsverkenning, finansiering en die huur van die produksiespan tot toerusting, kostuums en rolverdeling.

Cronjé is dit eens dat dit nie maklik is om ʼn onafhanklike rolprentprojek aan te pak nie en een van die grootste uitdagings wat telkemale die projek gekniehalter het, was finansiering wat deur die mat geval het.

“Die skiet van die rolprent moes uitgestel word. Dit het gevoel of ons elke keer van voor af moes begin en dit is dan wanneer jy in jouself begin twyfel en voel of die projek nooit uit die wegspringblokke gaan kom nie,” sê Cronjé oor die rolprent wat in Stellenbosch en aan die Weskus geskiet is.

Johannes Pieter Nel, wat op verlede jaar se Silwerskermfees in Kampsbaai vereer is met ʼn toekenning vir beste kinematografie vir die kortfliek Benjamin, het die kinematografie vir Liewe Lisa saam met Ebert Steyn gedoen.

Danie du Toit, hoofsanger en liedjieskrywer vir die gewilde groep Spoegwolf, het die oorspronklike musiek vir die rolprent geskryf.

Liewe Lisa begin op Valentynsdag, 14 Februarie, in fliekteaters landwyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.