[Video] SA’ner benoem vir gesogte internasionale toekenning

Paton en Mulubwa (Foto: Verskaf)

ʼn Johannesburgse vrou tel onder ʼn lys van hoëprofiel- internasionale bekendes wat onlangs vir ʼn Bifa-toekenning (British Independent Film Awards) benoem is.

Julene Paton, ʼn professionele grimeerkunstenaar en haarstilis wat al sowat 13 jaar in spesiale effekte in die rolprentbedryf spesialiseer, is die enigste Suid-Afrikaner wat vir dié buitelandse toekenning benoem is.

Paton het dié benoeming ontvang vir haar werk aan die Zambiese fliek, I am not a witch, wat altesaam 13 benoemings verower het.

I am not a witch vertel die verhaal van die negejarige Shula (Margaret Mulubwa). Shula, wat in ʼn tradisionele Zambië in Afrika woon, word na ʼn heksekamp gestuur nadat haar familielede daarvan oortuig word dat sy ʼn heks is. ʼn Geringe voorval gee aanleiding daartoe dat haar familie én hooflede van die stam haar verbied om tussen die “gewone mense” te leef weens dié beweerde heksery. Sy word opgesluit in dié kamp en moet dan besluit of sy haar lot moet aanvaar of die gevolge moet aanvaar indien sy besluit om na vryheid te soek.

Hoewel dié verhaal fiksie is, vertel dit steeds die storie van duisende jong meisies in Afrika wat daagliks onder soortgelyke omstandighede gebuk gaan.

Rungano Nyoni, die regisseur wat in Zambië gebore is maar deesdae as filmmaker in Engeland woon, het besluit om dié verhaal te vertel om veral sommige bygelowe en kulturele kwessies aan te raak.

“Mulubwa is uit soortgelyke omstandighede as in die fliek gehaal om die rol in die fliek te vertolk,” vertel Paton. “Sy is ʼn wonderlike jong dame wat ʼn ongelooflike voorbeeld stel. Dié kultuursoorte is ʼn werklikheid en die sogenaamde hekse word onder meer oortuig dat hulle nié van die heksekamp moet probeer ontsnap nie omdat hulle dan getoor sal word. Dit is iets waarmee hierdie mense daagliks te doen kry, iets waarvan hulle oortuig is.”

Paton met haar Safta-toekenning (Foto: Verskaf)

Paton, wat vroeër vanjaar ook ʼn Safta-toekenning vir haar grimeerwerk gewen het, vertel sy is dankbaar dat dié toekennings ook lede van die filmspan se insette raaksien. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die toekennings dat ʼn lid van die filmspan ʼn Bifa-benoeming ontvang.

“Dit is ʼn ongelooflike eer. Die filmspan werk regtig ontsettend hard en ons is dikwels ses dae ʼn week en 14 uur per dag aan die gang. Só ʼn benoeming is ʼn wonderlike erkenning vir ʼn mens se harde werk. Daarbenewens is ek ongelooflik dankbaar om deel van dié film te wees – dit is in elke opsig ʼn baanbrekersfilm wat ʼn storie vertel wat móét vertel word.”

Buiten Paton se benoeming, het Mulubwa ook ʼn toekenning vir die beste aktrise ontvang. Die fliek is verder ook onderskeidelik benoem vir die beste onafhanklike fliek, regisseur, draaiboek, jong vervaardiger, debuut-draaiboekskrywer, kinematografie, klankverwerking, produksieontwerp, kostuumontwerp en musiek. I am not a witch kom ook in aanmerking vir die Douglas Hickox-toekenning wat ʼn vervaardiger vereer.

Ander flieks wat ook talle benoemings ontvang het, sluit in Lady Macbeth (15 benoemings), The Death of Stalin (13 benoemings), God’s own country (11 benoemings), Three Billboards outside Ebbing (11 benoemings) en Missouri (11 benoemings). Altesaam 35 flieks het benoemings ontvang.

Die Bifa-toekennings word op 10 Desember in Londen uitgedeel. Die akteur en komediant Mark Gatiss is die seremoniemeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.