[Video] SINK –’verstrikking, verlies en vergifnis’

Sink

Foto: Verskaf

Sink is ’n eietydse drama wat die temas van verstrikking, verlies en vergifnis ontgin, teen die agtergrond van die huidige Suid-Afrikaanse klassestruktuur en die ervarings van buitelanders in die land.

Na die sukses van sy eerste roman, Die verhaal van Racheltjie de Beer, het Brett Michael Innes aan die manuskrip van sy tweede roman, Rachel Weeping begin werk, terwyl hy terselfdertyd aan die draaiboekverwerking van die roman en wat later Sink genoem is, begin skryf het.

Die storie vertel die verhaal van drie mense wat probeer om ’n tragiese situasie te verwerk. Die eerste persoon, Rachel (Shoki Mokgapa), is ’n ma wat die verlies van haar kind en die bitterheid teenoor die mense wat vir die kind se dood verantwoordelik was, probeer verwerk.

Die tweede persoon, Michelle (Anel Alexander), is ’n vrou wat die koms van haar eerste kind en die skuldgevoelens oor haar betrokkenheid by die dood van iemand anders se kind, probeer verwerk. Die derde persoon, Chris (Jacques Bessenger), is ’n man wat worstel met dieselfde gevoelens as sy vrou, Michelle, maar ook probeer om ’n verhouding met ’n kollega, wat sy huwelik bedreig, te verstaan.

Die vervaardigers, Johan Kruger (Winnie, ’n Man soos my Pa en toesighoudende vervaardiger van SemiSoet, Vrou Soek Boer en Strikdas), Anel Alexander (Discreet en Semi-Soet) en Brett Michael Innes, het aan die begin van 2014 die visie gehad om ’n Suid-Afrikaanse rolprent wat vir internasionale gehore geskik sou wees, te maak. Hulle het ’n eersteklasspan voor en agter die kameras bymekaar gekry en in Maart 2015, met die finansiële ondersteuning van kykNET en die departement van handel en nywerheid, het die produksie op Sink in alle ywer begin.

Die rolprent is onlangs vir nege toekennings by die Silwerskermfees benoem en het vyf daarvan gewen, wat beste draaiboek, redigering, klankbaan, kinematografie en aktrise – vir Shoki Mokgapa – ingesluit het.

Dié rolprent gaan vanjaar ’n paar draaie by internasionale filmfeeste maak nadat verlede jaar aangekondig is dat Sink een van die amptelike keuses vir die 40ste Atlanta-filmfees is. Sink sal 18 Maart in teaters begin draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.