Video:  Skating on Thin Uys 30 jaar later op die grootskerm

Evita Bezuidenhout in 'Skating on Thin Uys'.

Evita Bezuidenhout in ‘Skating on Thin Uys’.

Die rolprent Skating on Thin Uys is gisteraand op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vertoon, 30 jaar nadat dit die eerste keer uitgereik is.

In 1985 is dié rolprent met Pieter Dirk Uys as Evita Bezuidenhout bekendgestel, maar skaars drie weke later is dit verbied en nooit weer in Suid-Afrika gewys nie. Die vertoning is as deel van die viering van Pieter-Dirk Uys se 70ste verjaardag en Evita Bezuidenhout se 80ste verjaardag.

Skating on Thin Uys het ’n indrukwekkende rolverdeling. Behalwe vir Pieter-Dirk Uys wat die rolle van Evita Bezuidenhout, Bambi Kellermann, Hasie Bezuidenhout, De Kock Bezuidenhout, Billie-Jeanne Bezuidenhout en Izan Bezuidenhout speel, spog die rolverdeling met spelers soos Thoko Ntshinga, Lizz Meiring, Steven Moloi, Winston Gama, Scot Scott, Brümilda van Rensburg en Michael Brunner.

Daar is egter ook ’n paar ander bekendes in dié fliek: Anneline Kriel (in die rol van Moon Levine), die Springbokrugbyspeler Divan Serfontein en die politici dr. Piet Koornhof, Helen Suzman en dr. Connie Mulder.

Die draaiboek is deur Uys geskryf en die regisseur is Bromley Cawood.

“Almal was opgewonde oor die projek en om met die karakter van Evita Bezuidenhout dieper in die donker spelonke van ons politiek te kon inwoel,” sê Uys. “Ook om humor te gebruik om mense se aandag te vestig op die belaglike dinge in ons politiek en lewenswyse.”

Het dit oorreding gekos om die politici in die fliek te kry?

“Dr. Connie Mulder, wat pas uit die Nasionale Party geskors is en sy eie Konserwatiewe Party gestig het, was dadelik gretig en baie beleefd daarby,” sê Uys. “Om te dink hy het as minister so baie van my dramas deur sensuur verbied. Dr. Piet Koornhof was tweede aan bewind van die NP-regering en het ook dadelik met ’n glimlag aangemeld. Mev. Helen Suzman, die enigste parlementêre lid van die wit opposisie teen apartheid, kon nie wag om haar woorde te deel nie. Terloops: Almal het hul eie teks geskryf en almal het dadelik ingestem.”

En Anneline Kriel?

“Anneline was destyds mos mev. Sol Kerzner van Sun City-faam en was baie vol giggels omdat sy die vroulike Sol wat in beheer van die Bapetikosweti Glitter Pit en Casino was, kon speel,” sê Uys.

Hy sê die rolprent is vandag nog relevant.

“Die prent het in 1985 vir slegs drie weke in Suid-Afrika gedraai en toe is dit gestaak. Blykbaar is al die afdrukke van die 35 mm film “per ongeluk” vernietig. Net een het behoue gebly. Dit is na Londen na my agent gestuur, kastig vir die Cannes-rolprentfees. Dis ook daarom dat die Afrikaans met Engelse onderskrifte aangevul is. Dit is dié prent wat op die kykNET Silwerskermfees te sien sal wees. Kyk self en besluit, maar almal wat die prent gesien het, is verstom oor die relevante situasies en eietydse komedie wat plaasvind. En die gehalte van die produk laat sommige dit ‘die verlore meesterstuk uit die tagtigerjare’ noem!”

Uys is bly om weer eens die “Bezuidenhout-Bapetikosweti-Barok” met gehore te deel.

En Evita Bezuidenhout?

“Tannie Evita kan nie glo dat sy ná soveel jare amper dieselfde lyk nie,” sê Uys.

Maroela Media het tydens die geleentheid met Evita gesels oor die fliek en hoe sy dit reg kry om op die ouderdom van 80 nog so goed te lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.