[Video] Skreeusnaakse onderonsies in ‘Kampterrein’

Kampterrein (Foto: Facebook)

Kampterrein (Foto: Facebook)

Wanneer die Afrikaanse gesin, die Fouchés, by die ATKV-Buffelspoort-vakansieoord opdaag ná ʼn lang jaar, sien hulle die woonwastaanplek waar hulle elke jaar staan, word deur die Khumalo’s beset. Dít sal nie deug nie, en die onderonsies tussen die twee gesinne wat in ’n oor-en-weer-stryery ontaard, sorg vir skreeusnaakse vermaak.

Dít is die verhaal van die nuwe Afrikaanse fliek, Kampterrein, wat op 24 Maart landwyd in teaters begin draai.

Buiten dié petalje, probeer die bestuurder van die oord, Oom Gert, en sy minder skerp assistent, om voorbereidings te tref vir ’n verrassingsbesoek van ’n anonieme inspekteur van die Suid-Afrikaanse Toerismegraderingsraad, wat sal besluit of die vakansieoord vir nog ’n ster kwalifiseer al dan nie. Om hierdie toekenning te kry, is een van Oom Gert se lewenslange drome asook sy laaste kans voor hy aftree.

Niks verloop natuurlik volgens plan nie. Skielik word vrae gevra oor die skoonheidsalon wat veel meer as manikure en pedikure aan hulle kliënte bied. Daar is ook ’n ou tannie wat by die oord vakansie hou en sukkel om die teenwoordigheid van haar hondjie weg te steek by ’n oord waar geen troeteldiere toegelaat word nie; ’n nutsman wat nie in staat is om enigiets reg te maak nie, én ’n glanspaartjie wat dink niemand gaan hulle herken nie.

Die rolprent se regie is deur Luhann Jansen behartig, wat ook die bekroonde reeks, Sterlopers 1 en 2 vir kykNET geregisseer het. Die vervaardigers is Marcus Muller en Morne Lane van Incense Productions en die uitvoerende vervaardigers Joost Smuts, Johan Mehmeyer en Lizelle Demos.

Akteurs soos Louw Venter, Juanita de Villiers Velts, Jurgen Hellberg, Edrien Erasmus, Ruan Wessels en Lindie Stander is in die fliek te sien.

Kampterrein het ook ’n gratis app wat aan die gebruikers onmiddellike toegang bied tot alles wat hulle van die rolprent en akteurs wil weet, sy eie musiekradio het en die gebruiker ook in staat stel om ’n vakansie by die pragtige ATKV-oord, Buffelspoort – waar die rolprent geskiet is – te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wiebo ·

Die lokprent lyk baie na aangeplakte afrikaanse acting. Glad nie snaaks om so plat en dom te act nie………….

m4 ·

Dit lyk goedkoop en maak ons Afrikaanse mense platvloers. Veral kampeerders sal nie beindruk wees nie. Wanneer gaan die bedryf ophou om ons Afrikaanse mense goedkoop te laat lyk!

Piet Snot ·

Moet tog nie so suur wees nie.
Ons het almal ‘n lag nodig!

Valerie ·

Kyk hoeveel agendas julle in die “lokprent” optel. Ten minste vyf…

evsbest ·

Kan nie wag om die te sien nie. Ja slapstick maar so ontspannend en dis tog wat ons almal na verlang, ontspanning. Geen gedink, voorspelbaar en belaglik. beLAGlik. Tong in die kies.

URSULA ·

ons het dit nodig om te lag
ons kamp ook (hou van n grappie)
urs

Pietman ·

Is daar nie ‘n afrikaanse woord vir “movie” nie? Om te betaal vir die verkragting van ons taal sien ek nie voor kans nie. En nee, eks bloedjonk.

Alida ·

Trots op jongmense wat opstaan vir hul taal. Baie jongmense dink dis nie “cool” om Afrikaans te praat en luister nie.

AgneeMan ·

Tussen al die moord, verkragting, diefstal en al die crime, moet mens nou nog die gemors ook sien. Dis n patetiese probeerslag van n fliek maak, toilethumor is mos nou maar eens Afrikaans se kultuur. “Ek is sonder kultuur gebore”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.