Video: ‘Stroomop’ se amptelike lokprent bekendgestel

Simoné Nortmann en Donnalee Roberts in 'n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Simoné Nortmann en Donnalee Roberts in ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

Die lokprent vir die avontuurfliek Stroomop, met onder andere Donnalee Roberts, Armand Aucamp en Simoné Nortmann in die hoofrolle, is Donderdag amptelik bekendgestel.

Die verhaal speel in die Noord-Kaap op die Oranjerivier af en Ivan Botha, bekend vir sy rolle in die Bakgat-reeks én gewilde Afrikaanse rolprente soos Pad na jou hart en Vir altyd, staan aan die stuur van die fliek as regisseur.

Roberts, wat saam met Botha en Danie Bester van The Film Factory verantwoordelik is vir die vervaardiging, vertolk die rol van Lana, ʼn uitstekende sjirurg wat haar hele lewe aan haar werk wy. ʼn Traumatiese ervaring uit haar kinderjare bly by haar spook en sy gebruik haar werk om te skuil van die wrede werklikheid in haar lewe.

Ivan Botha is die regisseur van die fliek. (Foto: Verskaf)

Ivan Botha is die regisseur van die fliek. (Foto: Verskaf)

Teësinnig word Lana deel van ʼn selfhelpgroep, waar stukkende vroue weekliks byeenkom in ʼn desperate poging om hulle lewe aanmekaar te hou.

Hier ontmoet Lana vir Vivian (Simoné Nortmann), Adrie (Chanelle de Jager), Diona (Ilse Klink) en Nixie (Carla Classen). Die groepterapie slaag nie daarin om die vroue se mure af te breek nie en avontuurterapie word deur die selfhelpgroep voorgeskryf.

Voor die vyf vroue hulle oë kan uitvee, bevind hulle hulself op ʼn roeiboot op die Oranjerivier, waar die besige stadslewe verruil word vir ʼn wêreld só verlate en ongenaakbaar dat dit die geraas wat ook binne-in elke vrou woed, stil laat word.

Onderlangse wrywing tussen die vroue lei tot ʼn ongeluk op die rivier en in ʼn spanningsvolle oomblik word die gids, Guy (Armand Aucamp), en die vroue van die roeiboot afgegooi, meegesleur in die gemaal en verdwyn hulle in die onstuimige water.

Armand Aucamp. (Foto: Verskaf)

Armand Aucamp. (Foto: Verskaf)

Guy raak weg en moet veg vir sy lewe. Hy voel magteloos en kan slegs hoop dat die vroue sal oorleef, maar veral dat hulle hulself én mekaar sal vind.

“Drie jaar gelede is die idee in ons hart gebore om ʼn fliek te maak waarin daar nie ʼn man is wat die vrou red nie; waar ʼn vrou se identiteit nie gegiet is uit onrealistiese verwagtinge of wêreldse persepsies nie en waar die vroue die heldinne is en hulself red!” vertel Botha en Roberts luidens ʼn verklaring.

“Die idee het soveel uitdagings gehad – logisties, finansieel, tyd, natuurelemente – maar ons kon net nie die rug op Stroomop draai nie. Die tyd kon nie beter gewees het nie, want min sou ons kon weet of voorspel dat vroue oor die hele wêreld in dieselfde jaar wat ons die fliek sou maak en vrystel, “stroomop” sou swem, dat vrouebewegings hulle stem sou laat hoor, dat vroue sou opstaan vir hulself, vir gelyke regte, teen onregverdigheid en ongeregtigheid, vir dít waarin hulle glo!”

“Dit is letterlik op sommige dele in die middel van alles en nêrens tegelykertyd, met geen elektrisiteit, geen selfoonsein, net ons filmspan en al die elemente van die natuur.”

Stroomop word op Vrouedag, 9 Augustus, landwyd in fliekteaters bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bananas ·

Eks n grootfan van baie van die aktrisse’ , veral Simone, maar dié film trek my nou glad nie aan nie. Sal nogsteeds gaan kyk en hopelik verbaas dit my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.