Video: ‘Stroomop’-vroue kuier by première

Donnalee Roberts en Ivan Botha. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Donnalee Roberts en Ivan Botha. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die span van Stroomop het Donderdag dié splinternuwe avontuurfliek, met onder meer Donnalee Roberts, Chanelle de Jager en Ilse Klink in die hoofrolle, se première by Montecasino in Johannesburg gevier.

Die fliek gaan oor vyf vroue, almal uit verskillende wêrelde, wat saam by groepsterapie beland. Daar is ʼn uitgebrande chirurg (Roberts), ʼn bedroefde tipe A-prokureur (Klink), haar opstandige studentedogter (Carla Classen), ʼn oorgewig, oorstelpte huisvrou en ma van drie (De Jager), en ʼn vreesbevange jong data-analis in haar liefde verlaat (Simoné Nortmann).

As deel van die terapie gaan die vroue op ʼn river rafting-ekskursie op die woeste Oranjerivier. Wanneer hul mansgids daar in groot moeilikheid beland, moet dié vyf vroue saamspan, of hy, en hulle, oorleef dalk nie.

Roberts, wat ook mede-vervaardiger van die fliek is, was geklee in ʼn blink skepping deur Vesselina Pentcheva. Sy het saam met haar verloofde en regisseur van die fliek, Ivan Botha, op die rooi tapyt verskyn.

Chanelle de Jager vertolk die rol van Adrie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Chanelle de Jager vertolk die rol van Adrie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Nortmann, geklee in ʼn lila-kleurige skepping deur Suné Snyman, asook Carla Classen en Ilse Klink, in ʼn vlootblou fluweelrok, het vir die flitsende kameras poseer.

Dit was ʼn sterbelaaide aand en bekendes soos die voormalige Mej. Suid-Afrika, Melinda Bam, en haar suster, Melissa Bam, het ook na die fliek kom kyk. ʼn Stralende en swanger Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, die sangeresse Sharoney en Irene-Louise van Wyk en die aktrise Mila Guy het ook die geleentheid bygewoon.

Die sosialemediasensasie Craig du Toit Nel, die akteurs Bennie Fourie en Neels Clasen en die aktrises Cindy Swanepoel, Ansu Visser, Lea Vivier en Melissa Willering van Getroud met rugby-faam het ook ʼn draai gemaak by dié glansgeleentheid.

Dawie de Jager, wat verantwoordelik was vir die oorspronklike musiek in die fliek, het ook die geleentheid bygewoon. Janie Bay het voor die vertoning die gaste vermaak met ʼn akoestiese weergawe van die liedjie “You Are My Sunshine”, wat ook in die rolprent te hoor is.

Stroomop begin op Vrouedag, 9 Augustus, landswyd in teaters draai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.