[Video] ‘Twee grade van Moord’ en omstrede kwessies

Draaiboekskrywer, Anita le Roux. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Draaiboekskrywer, Anita le Roux. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

“Ek wou hê die film moet wys so iets kan met gewone mense met normale lewens gebeur, want dit kan met ons almal gebeur,” sê Anita le Roux, draaiboekskrywer van Twee grade van moord.

Verskeie bekendes het dié film se première Dinsdagaand by die Hyde Park-winkelsentrum in Johannesburg bygewoon.

Temas soos genadedood word in die film hanteer en Anita sê sy hoop die film dien as ʼn soort ysbreker sodat mense kan begin om daaroor te praat. “Die dood is nie iets waarvan ons moet wegskram of bang wees om oor te praat nie. Ons moet daaroor kan praat.”

Sandra Prinsloo. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Sandra Prinsloo. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Sandra Prinsloo, wat die rol van Aleksa vertolk, sê Twee grade van moord is ʼn film met diepte. “Met die lees van die teks het ek gevoel hier is iets wat werklik lyf het en wat geldige vrae vra. Die rolle wat ek en Marius [Weyers] vertolk, is ook interessant omdat die twee karakters ʼn liefdesverhouding, ʼn werklike liefdesverhouding het.”

Weyers speel die rol van Ben, ʼn man met geweldig baie passie vir die lewe en sy gesin.

Marius Weyers. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Marius Weyers. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

“Hierdie fliek is anders, want dit handel oor ʼn baie ernstige kwessie wat soveel mense raak, maar soos wat dit met die menslike wese gaan, al is dit hoe ernstig, is daar altyd iets snaaks wat gebeur. Ek dink Anita het dit baie goed vasgevang. Twee grade van moord gaan hoofsaaklik oor ʼn liefdesverhaal,” verduidelik Weyers.

Shaleen Surtie-Richards. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Shaleen Surtie-Richards. Foto: Maroela Media/ Kobus Bezuidenhout

Shaleen Surtie-Richards is ook in die film te sien en sy hoop dit sal mense se oë oopmaak omdat mense altyd reg is om te oordeel. “Ek hoop hierdie film laat mense daaraan dink dat jy nie te vinnig moet oordeel nie, veral as jy nie self in so ʼn situasie is nie.”

Hilda Cronje vertolk die rol van Tanja en vir haar wys Twee grade van moord dat liefde en verhoudings nie altyd maklik is nie. “Die liefde is iets wat mense altyd opeis en eien as wonderlik en romanties, maar hierdie is nie een van daardie verhale nie. Dit gaan oor menswees en wat waar is, is dat om lief te hê, nie maklik is nie.”

Twee grade van moord begin op 22 Julie in teaters draai.

Lees Maroela Media se rensesie oor Twee grade van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marietjie ·

Ek was uitgenooi as deel van die “Resensie”. Dit is ‘n ongelooflike film en een wat jou dae daarna nog aan die kwessie van wat is die regte/beste keuse gewees. Wat ‘n ongelooflike klomp mense wat hieraan en daarin deel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.