[Video] ‘Vaselinetjie’: Om te soek na hoop en ʼn eie identiteit

Marguerite van Eeden (Foto: Maroela Media)

“Dit wil voorkom dat hoe harder ons van verskille probeer wegkom, hoe meer bewus raak ons daarvan.”

Só het die rolprentresensent Leon van Nierop geskryf oor Vaselinetjie – die roerende film wat vanjaar met die Silwerskermprys as rolprent van die jaar weggestap het.

Die rolspelers in dié baanbrekersfilm het onlangs tydens die amptelike première in Johannesburg opgemerk dat dit juis presies was wat dié film moet bereik: om sosiale kwessies soos onder meer klasverskille, rassisme en xenofobie sonder skroom aan te vat en om gesprekke te kan voer oor dinge wat dikwels as taboe gesien word.

Vaselinetjie, oorspronklik ʼn bekroonde boek deur Anoeschka von Meck, vertel die storie van ʼn wit meisie wat as baba in die veld gelaat is en dan opgetel en versorg word deur ʼn bruin man en sy vrou voordat sy na ʼn kinderhuis gestuur word.

“Die fliek is kleurblind – dit gaan nie oor kleur nie,” het Marguerite van Eeden, wat die hoofrol van Vaselinetjie vertolk, by die première gesê. “Dit gaan daaroor om mense anders na die wêreld te laat kyk. Om te besef dat die wêreld nie so klein is soos wat ons dink nie en dat daar baie is wat swaar kry. Dit leer ons dat dit oukei is om te weet wie ons is, maar dis ook oukei om steeds na jou eie identiteit te soek.”

Elzet Nel, die aktrise wat die rol van Killer vertolk, sê dié fliek moet gesprekke begin rondom kwessies waarvan mense dikwels wegskram. “Dis belangrik om ʼn gesprek te begin oor mense se vrese of dinge waaroor mense nie eintlik in die openbaar iets sê nie. Die rede hoekom mense op eiers loop rondom sulke gesprekke, is omdat mense nie weet hoe om sulke gesprekke te benader nie. Vaselinetjie benader dié kwessies op ʼn sagte en poëtiese manier.”

Van Nierop het juis in sy resensie hiermee saamgestem. Hy sê dié fliek spreek die kwessies aan “sonder woede of oormatige aggressie”.

Corné van Rooyen van Hollywood in my huis en Sy klink soos lente-faam is die regisseur van die fliek. Ander akteurs soos Nicole Bond, Shaleen Surtie-Richards, Arno Greeff, Elani Dekker en Anchen du Plessis is ook in die fliek te sien.

Vaselinetjie begin op 22 September in teaters landwyd draai.

Maroela Media het met die akteurs in die hoofrolle op die glanstapyt gesels oor dié baanbrekersfilm.

Corné en René van Rooyen (Foto: Maroela Media)

Arno Greeff (Foto: Maroela Media)

Elzet Nel Marguerite van Eeden (Foto: Maroela Media)

Elani Dekker (Foto: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.