[Video] ‘Verskietende ster’: ʼn rolprent oor vergifnis

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Verskietende Ster. Foto: www.kyknet.dstv.com

Die première van Verskietende ster was Donderdag by Nu Metro Hyde Park in Johannesburg, waar verskeie rolspelers van die film die opening gevier het.

Die film handel oor ʼn jong seun, Phillip Schuman (15), ʼn talentvolle pianis wat deur moeilike omstandighede moet worstel om sy talent te kan beoefen. Hykie Berg, wat die rol van Phillip se pa, Thomas, vertolk, sê dié rolprent handel oor vergifnis. “Daar is baie hartseer in die film, maar ook baie hart.”

Hykie meen sy karakter is ʼn baie streng pa. “Die pa (Thomas) het nie sy eie drome verwesenlik nie en is vreeslik bitter. Hy onderdruk sy seun se drome om klavier te speel, omdat hy glo sy seun sal nie ʼn toekoms in daardie rigting kan hê nie. Hy het ook sy vrou aan kanker verloor, so die verlies stoot hom nog verder in dié donker gat, en daarom probeer hy sy seun ook in ʼn spesifieke rigting dwing.”

Deànré Reiners, wat die rol van Phillip vertolk, sê daar is ʼn boodskap in die rolprent, veral vir jong mense. “As iets jou passie is, moet jy aanhou om jou droom na te jaag en jou bes doen om dit te bereik.”

Verskietende ster se draaiboek is deur Stefan Enslin geskryf, wat ook ʼn roman met dieselfde titel agter sy naam het. “Ek wou met dié fliek vir jong mense sê hulle is met ʼn talent geskape om ʼn goeie rede – moet dit nie onderdruk nie, gaan gebruik dit.”

Die regie van dié rolprent word deur Darryl Roodt behartig, met Philo Pieterse as medevervaardiger saam met Stefan Enslin. Groot name soos Hannes van Wyk en Jana Strydom is ook in Verskietende ster te sien.

Kyk na die video om te hoor wat akteurs sê oor Verskietende ster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.