Die amptelike lokprent van die nuwe Afrikaanse fliek, Vir die Voëls, is onlangs bekendgestel.
Dié fliek word vervaardig in samewerking met kykNET Films as deel van Huisgenoot se eeufeesviering vanjaar.
Vir die Voëls, wat in die 1970’s afspeel, vertel die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ʼn korrelkop-rabbedoe wat in ʼn trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd onophoudelik geterg het. Tot kort tevore sou sy haar kop op ʼn blok sit dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oortuigings op alle vlakke kom uitdaag.
Nortmann sê die maak van dié fliek is ʼn belewenis. “Dit is my eerste fliek en dit voel steeds onwerklik. Dit is een van die hoogtepunte van my loopbaan om saam met Quentin Krog en ander ervare veteraan-akteurs te kon werk. Die verhaal is ook hartroerend met universele temas, en ek glo die publiek gaan baie lief raak vir Irma en Sampie.”
Francois meen dié fliek gaan kykers ʼn kykie in vervloë jare gee. “Dit was ’n groot voorreg om deel te wees van so ’n groot projek. Dit is nie aldag dat ’n mens die geleentheid kry om jouself in ’n era te bevind waarin jou ouers grootgeword het en daarin te “speel” nie.
“Die fliek is ’n moet-kyk, veral omdat dit gemik is op ’n wye gehoor. Dis ’n ongelooflike wipwaentjierit van liefde, seerkry, geluk, teleurstelling en oomblikke van skaterlag,” het hy bygevoeg.
Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie.
Die rolprent begin op 25 November in teaters draai.
Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films deur The Film Factory vervaardig.
Ek sien uit om die fliek te gaan Kyk!
Die meeste rolprente wereldwyd deesdae handel oor wetenskaplike fiksie of baie onlangse gebeure. Hoekom haak Afrikaanse flieks vas by ou ou geskiedenis, en word afrikaners so tiperend verkleineerd of eng uitgebeeld. Ek het nog nie hierdie fliek gesien nie, maar uit die paar fotos is die norm reeds duidelik. Afrikaners is van die mees tegnologies gevorderde mense in die wereld, en ons prestasies bewys dit. Ek hoop van harte rolprent vervaardigers wil eerder flieks begin maak wat die suksesse van die Afrikaners begin invryf by hulle kykers.
Lyk goed. hoekom alewig engelse vertaling onder sit? Wees realisties hoeveel mense wat glad nie ‘n taal magtig is nie gaan die film kyk? En nou word almal verontrief want dalk kyk 1 of twee wat nie afrikaans magtig is nie. Vroë afrikaanse films was nie so nie en almal het geleef om die storie te vertel.