Video: ‘Vuil Wasgoed’-sterre skitter by première

Leandie du Randt-Bosch

Leandie du Randt-Bosch tydens die première van ‘Vuil Wasgoed’. (Foto: Leonie Bezuidenhout /Maroela Media)

Die sterre van die aksiebelaaide fliek Vuil Wasgoed het Woensdagaand tydens ʼn spoggeleentheid by die Cedar Square-winkelsentrum in Johannesburg byeengekom vir die première.

Die akteurs en gaste het almal opgetof in mode uit die tagtigs en dit het vir ʼn prettige en kleurryke affêre gesorg.

Dié fliek wat in 2014 op die Silwerskermfees in Kaapstad die toekenning vir die beste kortfliek verower het, het vanjaar wéér vyf toekennings op dié fees gewen nadat die kortfliek tot ʼn vollengte rolprent verwerk is.

Bennie Fourie vertolk die rol van Kevin en het die fliek se draaiboek behartig. Volgens Fourie is Vuil Wasgoed ʼn nuutjie vir die Afrikaanse filmbedryf. “Dit is ʼn aksie-komedie en regtig snaaks. Mense kan maar kom kyk.”

Bouwer Bosch, wat die rol van Wim vertolk, was ook medevervaardiger saam met Fourie en Danie Bester van The Film Factory. “Daar is baie flieks wat gaan oor ʼn meisie en ou wat verlief raak, maar ons fliek gaan oor twee ouens wat dieper in hulle vriendskap delf in ʼn komiese situasie,” het Bosch gesê.

Vuil Wasgoed is die storie van twee beste vriende, Wim en Kevin, wat saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hulle eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die wassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en partytjies by te woon.

Voorlopig is hulle daarmee tevrede. Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, totdat hy ʼn onderduimse juweelhandelaar verraai en sy vinger afgesny word, en dié vinger in ’n baadjiesak by die wassery beland.

Wim en Kevin word teensinnig in ʼn gevaarlike onderwêreld ingesleep. Twee skelm broers, ʼn blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ʼn ongenaakbare verraaier is almal op Wim en Kevin se spoor. En êrens staan ʼn skeepsvraghouer met ʼn kosbare vrag en wag vir die hele spul om op toe te sak.

Die prent is onlangs aanvaar vir die Portland- internasionale rolprentfees.

Vuil wasgoed is van 8 Desember landwyd in teaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.