Video: Wanneer ʼn troue heeltemal ontspoor…

Simoné Nortmann. Foto: Facebook/Pritti/Migneon Marais

Trou is nie perdekoop nie – veral nie as dié troue heeltemal ontspoor waar die bruidegom die liefde van sy lewe moet agternasit, die bruid uit ʼn benaderde situasie moet probeer ontsnap en ʼn kelnerin haarself moet ontknoop nie!

Dié verhaal van die nuwe Afrikaanse fliek Wonderlus, waarvan die lusmakerlokprent vandeesweek uitgereik is, word selfs nóg meer absurd, maar nuuskieriges sal nog tot April volgende jaar moet wag wanneer dié fliek in teaters landwyd begin draai.

Wonderlus het vroeër vanjaar drie toekennings ontvang by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vir die beste teks (Johan Cronje), die beste byspeler (Beer Adriaanse) en die beste aktrise (Lea Vivier).

Dié fliek bied ʼn nuwe uitkyk op twee van die lewe se grootste kwelvrae: Wat is ware liefde en waar lê die balans tussen wat jy móét en wat jy wíl?

Wonderlus is geskryf deur Johan Cronje van Strikfontein en Phil101-faam en word vervaardig deur Nouvanaand Films. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Edwin van der Walt, Mila Guy, Simoné Nortmann, Stiaan Smith en Lynelle Kenned.

Voorskou

Twee voorskoue van Wonderlus word tydens die US Woordfees tussen 2 – 11 Maart 2018 in Stellenbosch vertoon. Kaartjies vir die publiek is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.