Vier ‘Avatar’-opvolgflieks duurste nóg

‘n Toneel uit Avatar.

Die bekroonde regisseur James Cameron het einde verlede maand begin om vier opvolgrolprente vir die gewilde wetenskapfiksie-fliek Avatar te verfilm.

Volgens berigte word al vier opvolgflieks direk na mekaar verfilm en is daar ook reeds bekend gemaak wanneer die rolprente op die grootskerm sal wys.

Die eerste opvolgfliek sal in Desember 2020 uitgereik word gevolg deur die volgende fliek in Desember 2021. Aanhangers sal dan tot Desember 2024 moet wag vir die derde opvolgfliek terwyl die laaste rolprent in Desember 2025 uitgereik sal word.

Dit sal glo sowat $1 miljard (R13,7 miljard) kos om die vier rolprente te vervaardig. Volgens Lachlan Murdoch, hoof van 21st Century Fox, sal die Avatar-opvolgflieks “die duurste rolprente van alle tye wees”.

Avatar is ʼn futuristiese liefdesverhaal wat afspeel te midde van konflik tussen mens en bo-aardse wesens gedurende ʼn “veraf” maand in die 22ste eeu.

Cameron het gesê hy het tydens die beplanningsfase van dié opvolgflieks besluit dat slegs drie flieks die storie te veel beperk. “Elkeen van die vier opvolgflieks sal ook op sy eie kan staan en steeds sin maak, maar die vier flieks saam gaan ʼn sage vorm.”

Die eerste aflewering, wat ongeveer vier jaar geneem het om te vervaardig en in 2009 bekendgestel is, is die fliek wat tot dusver die meeste nóg by die loket verdien het met ʼn algehele verdienste van meer as $2,7 miljard. Titanic staan in die tweede plek met ongeveer $2,2 miljard.

Cameron het gesê aanhangers kan verwag dat die opvolgflieks beter en groter gaan wees as die eerste een. “Ek werk die afgelope paar jaar saam met ʼn span top-skrywers om Avatar vorentoe te ‘ontwerp’, met betrekking tot die karakters, die kulture, die wesens en die omgewing. Tot dusver is die kuns waarmee ons vorendag gekom het iets wat net in ’n mens se gedagtes kon leef, en baie groter en selfs meer indrukwekkend as die eerste fliek.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BB ·

Ek wonder maar by myself hoeveel mense na die fantasies weer gaan selfmoor pleeg. Maar ek sien uit na die flieks…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.