‘Vir Altyd’-fliek laat rekords spat

Featured-Vir-Altyd-Ivan-Botha-en-Donnalee-Roberts-02

Donnalee Roberts en Ivan Botha by die fliekpremière. Foto: Esté Meyer-Jansen

Die Afrikaanse romantiese avontuurfliek, Vir Altyd, is onlangs aangewys as die Afrikaanse fliek wat die meeste geld óóit by die loket ingesamel het.

Dié fliek, wat nog slegs vier weke by teaters te sien is, het reeds ’n rekordbedrag van R13,4 miljoen verdien.

Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) wat saam as beste vriende grootword, ten spyte van haar ouers se teenkanting, maar wat kontak verloor weens ’n tragiese gebeurtenis wat hul lewe vir altyd verander.

Ná tien jaar sien Hugo en Nina mekaar weer op die vooraand van haar troue met Retief (Stiaan Smith). Maar, wanneer haar feëverhaal tot ’n einde kom, gaan sy en Hugo Mauritius toe as ‘bruid’ en ‘bruidegom’, en word gekonfronteer met pynlike herinneringe en sterk emosies.

Ster-Kinekor Entertainment, die verspreider van die fliek, het in ʼn amptelike verklaring bevestig dat die fliek amptelik die hoogsverdiende Afrikaanse fliek by die loket is.

Vir Altyd het die loketverdienste van Liefling en Pad na jou Hart verbygesteek en trek nou by R13,4 miljoen. Ons bevestig dus dat die fliek nou spog met die grootste loketinkomste tot dusver vir ’n Afrikaanse rolprent. Ons is verheug met die sukses. Ons wens die vervaardigers en almal betrokke daarby baie geluk met die prestasie,” het Pieter Geldenhuys, woordvoerder, gesê.

Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, medevervaardigers en hoofspelers van die fliek, sê dit is vir hulle ʼn groot eer. “Ons is onbeskryflik dankbaar vir elke persoon wat na Vir Altyd gaan kyk het; die terugvoer is oorweldigend en ons waardeer dit oneindig baie. Ons hoop werklik dat die ondersteuning van Vir Altyd momentum sal skep vir al die opkomende plaaslike films wat vanjaar uitgereik word, sodat ons Suid-Afrikaanse filmbedryf net van krag tot krag kan gaan.”

Danie Bester, medevervaardiger van Vir Altyd, het gesê rekords is daar om gebreek te word. “Vir my huldig dit eerstens die prestasie van jou voorgangers of tydgenote en tweedens dien dit as aansporing vir jouself en die span saam met wie jy werk om jou bes en selfs beter te doen. Wat ’n inspirasie om Liefling vir so lank te kon volg as ’n baken, wat ’n opwindende voorreg om ’n nuwe mylpaal te kan stel.”

Die fliek spog met akteurs soos Elize Cawood, Wilson Dunster, Illse Roos, Dirk Stoltz, Laré Birk, Deidre Wolhuter, Andre Jacobs, André Stolz, Sans Moonsamy, Nicky de Kock, Caylem Else en Hèléne Truter.

Vir Altyd is deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory vervaardig. Die fliek is steeds landwyd in teaters te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hettie ·

Trots op julle! Ons het Saterdag fliek “Vir altyd” gekyk. Ons is doof en was so baie bly dat daar subtitle het wat ons kan lees! So perfek fliek!

Connie ·

Ja en ‘n baie prominente outjie wat flieks punte gee, het dit glad nie gerate nie. Of eerder nie hoog gerate nie. Baie negatiewe dinge gese. En kyk nou? Well done.

karen b ·

connie, ek is seker leon van nierop is as kenner, geregtig op sy opinie van bg fliek. Hy weet waarvoor om te kyk, terwyl jy net kyk?

KarenG ·

Met alle respek is Leon van Nierop geregtig op sy opinie. Hy is immers ‘n kenner en het jare se ondervinding. Ek glo wel dat hy uit ‘n baie meer tegniese oogpunt na ‘n film kyk en daarvolgens “rate”. Ek as jou gemiddele fliekganger wil ontspan en gaan nie ‘n fliek aniliseer nie. Dis sy werk, myne is om dit hopenlik dit te geniet. P.S. Ek maak ‘n punt om die flieks te gaan kyk wat hy gewoonlik laag “rate”….ek geniet dit gewoonlik baie…lol. Maar hierdie is maar net als my opinie.:)

connie ·

Presies. Kyk hoeveel geld maak die fliek. Dink jy sy opinie is reg?

karen b ·

connie, verstaan jy nie my comment nie of wat? hy weet wat hy doen. en dis sy opinie. en hy is geregtig daarop. het jy nie iets beters om te doen nie?

wilma ·

Geluk skenk van daardie geld aan boere wat droogte het in ons land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.