Vuil Wasgoed: Só lyk die skurke

nico panagio

Nico Panagio is Manny Gotty. (Foto: Werner Botha / Plastiek)

Fliekgangers kan vanaf 8 Desember kennis maak met Tom, Manny Gotty en Joe Gotty, wanneer dié drie skurke hulle toetrede tot die silwerdoek maak in die nuwe Afrikaanse aksie-komediefliek Vuil Wasgoed.

Die storie handel oor Wim (Bouwer Bosch) en Kevin (Bennie Fourie), twee beste vriende wat ook saam by ʼn klerewassery werk, maar daarvan droom om hul eie koffiewinkel oop te maak. Hoewel die twee net tydelik by die klerewassery sou werk, is albei sewe jaar later steeds daar. Vir hulle is dit ʼn hoogtepunt om elke aand die klere van die wassery se kliënte aan te trek en dan partytjies by te woon.

Hierdie stelsel werk goed, totdat ʼn onderduimse juweelhandelaar verraai en sy vinger afgesny word, en dié vinger in ʼn baadjiesak by die wassery beland.

Wim en Kevin word teen hulle sin by ʼn gevaarlike onderwêreld ingesleep. Twee skelm broers, ʼn blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en ʼn ongenaakbare verraaier is almal op Wim en Kevin se spoor. En êrens staan ʼn skeepsvraghouer met ʼn kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.

charlie-bouguenon

Charlie Bouguenon speel die rol van Joe Gotty. (Foto: Werner Botha / Plastiek)

Nico Panagio, bekend vir verskeie televisie-rolle asook as aanbieder van die realiteitsreeks Survivor SA en SABC3 se leefstylprogram Top Billing, speel die rol van een van dié skelm broers, Manny Gotty.

“Hy is wat hy is,” sê Panagio oor die karakter wat hy vertolk. “Hy vat elke situasie soos dit kom. Manny kom terug van êrens af om sy pa se besigheid oor te neem, maar wanneer hy daar kom, kom hy agter dat sy broer, Joe, en kollega, Tom, óók hulle oog op die besigheid het. Manny raak pro-aktief en neem dan dinge in sy eie hande.”

Die rol van Manny se broer, Joe, word vertolk deur Charlie Bouguenon. “Hy is baie lojaal en voel hy is ʼn vreeslike intimiderende mafioso,” lag Bouguenon oor sy karakter. “Ag shame, niemand neem hom ernstig op nie. Maar hy glo vas dat hy die besigheid gaan erf van sy pa en dat mense dán na hom sal luister.”

Bouguenon, wat sertifikate in spesiale vuurwapenhantering en verhoog-gevegte, asook ʼn lisensiaat in musikale teater deur London Trinity College verwerf het, sê dit was ʼn ongelooflike ervaring om aan die fliek te werk. “Dit was ʼn uitdaging, maar tog lekker om hierdie spesifieke aspekte van my opleiding te kan gebruik.”

tim-theron-vuil-wasgoed

Tim Theron as Tom. (Foto: Werner Botha / Plastiek)

Tim Theron, bekend vir sy rolle in Mooirivier en Klein Karoo, stem saam met Bouguenon. “Ek het elke oomblik op stel geniet. Ek was gelukkig dat die vorige fliek waarin ek gespeel het Jagveld was, wat ook ʼn aksiefliek was, en ons het daar reeds so ʼn bietjie opleiding gekry in wapenhantering. Dit was ontsaglik lekker om dit weer te kon toepas in Vuil Wasgoed. Soos baie seuntjies het ek grootgeword met al die aksiehelde en in my agtertuin etlike oorloë geveg en gewen, so hierdie was vet pret,” lag Theron.

Theron vertel een van die grootste uitdagings tydens die verfilming van die fliek was dat meeste van die tonele in die aand geskiet is. “Ons het dus 17:00, 18:00 of 19:00 in die aand eers begin skiet en dan deurnag gewerk tot die volgende oggend 05:00, 06:00 of 07:00. Jou lyf raak net nooit heeltemal gewoond daaraan nie,” vertel hy.

Panagio beaam dit. “Dit was so lekker vir ons ouens om met gewere te speel. Die fliek is belaai met pistole en gewere wat vinnig uitgetrek moes word vir die stadige aksie-skote. Ons het lank daaraan gewerk om die tegniek te bemeester. Die moeilikste was om vir ure op die grond te lê in ʼn yskoue skeepsvraghouer,” lag hy.

Vuil Wasgoed het tydens vanjaar se Silwerskermfees weggestap met toekennings vir beste regisseur (Morné du Toit), beste redigering (Quinn Lubbe), beste akteur (Fourie), beste produksie-ontwerp (Merishen Wessels) en beste klankontwerp (Janno Muller) en oorspronklike musiek (Benjamin Willem).

Vuil Wasgoed begin 8 Desember draai in fliekteaters landswyd.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.