‘Vuil Wasgoed’ met internasionale toekennings bekroon

Bennie Fourie (Foto: Facebook)

Die span van die splinternuwe Afrikaanse aksiefliek Vuil Wasgoed het rede om fees te vier nadat dié fliek met twee internasionale toekennings op die 2017 winteraanbieding van die Alt FF- alternatiewe rolprentfees in Toronto, Kanada, bekroon is.

Die fliek het weggestap met die gesogte toekennings vir beste skrywer en beste komedie.

Bennie Fourie, skrywer van die draaiboek, sê ʼn mens weet nie wanneer jy inskryf hoe groot die fees is nie. “Dit gaan egter nie soseer oor die fees nie, maar oor die feit dat ʼn Engelse gehoor aanklank kan vind by ʼn Afrikaanse fliek met Engelse onderskrifte.

“Die feit dat mense wat nie Afrikaanssprekend is nie, steeds vir die fliek kan lag, sê baie van die storie,” sê Fourie.

Oor die toekenning vir beste skrywer is Fourie baie trots. “’n Mens sit verskriklik lang ure in die skryfwerk van so ʼn projek in, so dit is baie lekker om erkenning daarvoor te ontvang.”

vuil wasgoed toerspan

(Foto: Instagram/Bennie Fourie)

Die fliek, wat reeds ongeveer R3,1 miljoen by die plaaslike loket gehaal het, kry volgens Fourie net goeie terugvoer. “Ons het nog net mooi dinge oor die fliek gehoor, maar mense sê seker die lelike dinge agter jou rug,” skerts Fourie.

Die Vuil Wasgoed-span het tydens die vakansietydperk ʼn bemarkingstoer van Gauteng na Kaapstad onderneem en sowat 5 500 km afgelê. “Dit was so lekker. By soveel plekke waar ons gekom het, het mense gesê hulle het reeds die fliek gesien of beplan om dit te gaan kyk.”

Vuil Wasgoed is landwyd in fliekteaters te sien en het ʼn ouderdomsbeperking van 16 vir geweld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Abraham brits ·

Beste fliek sedert Vir die voëls. Skreeu snaaks, puik toneelspel, wonderlike woordspeling en trots Afrikaans, Suid Afrikaans. Dankie Bouwer en Fanie.

Verbaas ·

Asb help wil graag kyk waar word dit gewys.? Sien nerens in Nelspruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.